1. Pasteikors

Filodeeg skeur maklik of droog vinnig uit. Gebruik enige oorblywende stukkies deeg vir 'n maklike pasteikors.

Pasteikors. Foto: Jacques Stander
Pasteikors. Foto: Jacques Stander

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  • Skep 'n pasteivulsel van jou keuse in 'n oondbak. Skeur die oorskietfilodeeg rofweg in stukke op en pak knus teen mekaar bo-op die pasteivulsel.
  • Verf liggies met gesmelte botter en bak 10-15 min. of tot die deeg goudbruin en bros is.

2. Kamma-paaper-happies

Kamma-paaperhappies. Foto: Jacques Stander
Kamma-paaperhappies. Foto: Jacques Stander

Dié krakerige happies word tradisioneel van oorskietsamoesadeeg gemaak. Vir dié kitsweergawe word oor­skietfilodeeg ingespan.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer 2 groot bakplate liggies met olyfolie.

  • Skeur oorskietfilodeeg rofweg in stukke. Versprei op die bakplate.
  • Drup 'n bietjie olyfolie oor die deegstukkies. Sprinkel speserye van jou keuse oor (soos paprika, rooipeper, droë brandrissievlokkies, komynsaadjies, gemengde droë kruie en bereide speserymengsels). Geur met sout en vars gemaalde peper.
  • Bak die happies 5-7 min. of tot goudbruin en bros. Laat op die bakplaat afkoel en sit net so voor as 'n happie. 
Wenk
Gebruik olyfolie-­kossproei pleks van die gesmelte botter vir 'n minvet-opsie – dit werk net so goed en spaar selfs meer tyd.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.