• Roomys: Klits die room styf. Vou die kondensmelk en ander bestand­dele hierby in. Skep in ’n houer en vries sowat 6 uur; klits so elke twee uur met ’n vurk om te keer dat yskristalle vorm. 
  • Churrobakkies: Spuit die agter­kant van diep muffin­panne baie goed met kossproei. 
  • Meng die botter, water en sout oor ’n hoë hitte tot die botter gesmelt is. 
  • Voeg die meel by en roer in. Verlaag die hitte en roer tot die deeg ’n bal vorm. 
  • Haal die kastrol van die hitte af, laat effens afkoel en roer die eiers by. 
  • Skep in ’n versier­sak met ’n dik ster-
    punt. Draai ’n muffinpan onderstebo en spuit die deeg om die agter­kant van ses van die holtes sodat dit ’n bakkie vorm, en vries dit so. 
  • Verhit genoeg olie vir diepbraai. Lig die bakkies versigtig van die muffinpanne en plaas ’n paar op ’n slag in die olie. Braai tot goudbruin aan albei kante. Draai halfpad om tydens die gaarmaak­proses. Dreineer die churrobakkies op kombuispapier en rol in die kaneel­suiker. 
  • Sous: Smelt die botter, suiker en gouestroop oor lae hitte. Roer aanhoudend sodat dit nie brand nie. 
  • Roer die room in wanneer alles mooi opgelos is. Verwyder van die hitte en roer die whisky in.  
  • Afronding: Skep bolle van die roomys in die churro­bakkies en sit die karamelsous louwarm daarby voor. S

Inspirasie wat uit die ­sosiale media geput is, ’n Italiaanse skoonsus en heelwat eksperimente in die kombuis lei tot ’n spoggerige roomys.

Van links is Hyron Moss, Valeska van Zyl (wenner) en Charisse Jacobs in ’n ligte luim op die stoep van die Wenresepkombuis. Foto: Jacques Stander

In die Wenresepkombuis wissel die resepte vandeesweek van internasionale interpretasies tot tipies Suid-Afrikaans. 

Hyron Moss van Kraaifontein het nege jaar lank op die eiland Guernsey in Engeland gebly.

Sy vrou, Desiree, se Mexikaanse eenskottelhoender was daar so gewild, dit het op ’n restaurant se spyskaart beland. Dis wat hy vir ons kom maak het.

Charisse Jacobs van Mitchells Plain is gek daaroor om nuwe resepte te beproef en hoef net ’n bestanddelelys in die hand te hê om self die metode uit te pluis.

Sy het ons met heerlike Maleise koesisters bederf.

Valeska van Zyl van die Strand hou daarvan om in die kombuis te eksperimenteer en soek graag inspirasie in die sosiale media, by vriendinne en by haar Italiaanse skoonsus.

Hieruit is gebore ’n ongelooflike wenkombinasie (en wenresep) van churrohorinkies met ’n vinnige lemmetjieroomys en ’n maklike karamelsous. 

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproductions.co.za as jy as deelnemer oorweeg wil word.