Smeer ’n 20 cm-­losboomkoekpan. 

  • Maak die beskuitjies fyn en meng met die gesmelte botter. Druk vas op die bodem van die koekpan.
  • Week die gelatienvelle in yskoue water tot sag. (Andersins, sprinkel gelatienpoeier oor 30 ml (2 e) koue water en laat staan om te spons.) 
  • Klits die roomkaas en vanieljepitjies of -ekstrak saam met die suiker tot glad.
  • Smelt die sjoko­lade in ’n glasbak in die mikrogolfoond of oor ’n kastrol met kookwater. Roer elke 40 sekondes tot glad. 
  • Haal die sagte gelatienvelle uit die water en voeg saam met die kookwater by die sjokolade. Meng tot die gelatien heeltemal opgelos het in die sjokolade. (As jy gelatien­poeier gebruik, verhit sowat 30-40 sekondes in die mikrogolf­oond tot gesmelt; dit moenie kook nie. Roer ’n bietjie van die sjokolademengsel by die gesmelte gelatien en voeg alles by die orige sjokolade.) 
  • Meng die roomkaasmengsel by die sjokolademengsel in.
  • Klits die room en vou in. 
  • Giet bo-op die beskuitjies en maak die bokant glad. Laat stol minstens 4 uur in die yskas. 
  • Hoe om te ontvorm: Druk ’n paletmes in warm water en trek al om die rand van die koek sodat die gestolde kaaskoek om die rand kan loskom. Haal die ring van die losboompan versigtig af.
  • Afronding: Plaas op ’n opdienbord en sprinkel die bessies en granaatpitte oor. Rond af met versiersuiker en mentblare indien verkies. 

Dinge was lekker soet in dié week se episode van Jy Het ’n Wenresep!

(Van links)Arno Ralph, Brendan Keun (die wenner) en Franko Nel het hul slag gewys. Foto: Jacques Stander

Drie jong sjefs het hul slag in ons TV-­kombuis kom wys.

Franko Nel van Vredehoek in Kaapstad is van kleins af aan “vreemde” kosse en smake blootgestel.

In die 1980’s en ’90’s het sy pa baie oorsee gereis en tuis vir hulle van Peking-eend tot soesji berei. Dit het hom geïnspireer om ’n loopbaan in die koswêreld te volg. Hy het vir ons salm op sampioene-en-bone saam met brandrissietempoera berei.

Arno Ralph van Seepunt het sy passie vir nageregte gedemonstreer met ’n opgedolliede piesangbrood. 

Brendan Keun van Kenilworth het in die Vrystaat grootgeword, waar hy aan huis sy passie vir bak ontdek het. Dit het hom oorreed om ’n fyngebaksjef te word. Hy het sy ouma se resep vir sjokolade-yskaskaaskoek ’n tikkie sjefsflair gegee, en dit besorg aan hom die wenreseptitel.  

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur e-pos na via@mediaclubproductions.co.za as jy as deelnemer oorweeg wil word.