Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer 2 groot bak­plate met bakpapier uit en bespuit met kossproei.

  • Koekies Plaas die botter, kondensmelk, vanielje en suiker saam in die bak van ’n voedselverwerker. Pols tot goed gemeng.
  • Voeg die meel by en pols tot ’n deeg om die lem vorm. Skraap die deeg uit en vorm in ’n bal. Bedek met kleefplastiek en verkoel minstens 30 min. of tot wanneer benodig.
  • Rol die deeg sowat 2-3 mm dik op ’n meel­bestrooide oppervlak uit en druk sirkels van 15 cm in deursnee uit. Druk nog ’n sirkel van 2-5 cm in deursnee in die middel van elke groot sirkel uit. Pak die sirkels ’n paar sentimeter uit mekaar 
    op die bakplate uit (die koekies sal effens vergroot wanneer dit bak).
  • Bak die koekies 7-10 min. in sarsies of tot goudbruin en gaar. Laat dit 10 min. op die bakplate afkoel en pak versigtig op draadrakkies om heeltemal af te koel.
  • Versiersel Plaas die eierwitte, suurlemoensap en vanielje in ’n groot mengbak en klits met ’n elektriese handklitser tot stywe punte vorm. Sif die versiersuiker oor en klits 7-10 min. of tot glad. 
  • Drup kleursel by en klits tot goed gemeng. Indien die versiersel te styf is, voeg nog ’n bietjie suur­lemoensap by.
  • Vir afronding Versier die koekies met die versiersel en koekversiersels soos verkies. Laat die versiersel minstens ’n uur droog word.