1. Springmieliehorinkies

Lewer 10-12 roomys-horinkies
Bereiding: 20 min.
Mikrogolf: 2-3 min.
Stol: 1 uur

Metode
  • Plaas 150 g gemengde malvalekkers in ’n mikrogolfvaste glasbak. Mikrogolf 2 min. en roer tot gesmelt. As die malvalekkers nog nie heeltemal gesmelt is nie, mikrogolf dit nog 30-60 sek. tot gesmelt. 
  • Meng 4 x 250 ml (4 k) klaar bereide springmielies goed met die malva­lekkers. 
  • Plaas 10-12 roomys­horinkies regop in ’n houer (ons het sommer gleufies in ’n kartonboks gesny en die roomyshorinkies daarin gebalanseer). Maak jou hande nat, skep 80 ml van die springmieliemengsel daarin en rol in ’n bal. 
  • Sit die bal stewig bo-op die roomyshorinkie en sprinkel versiersels van jou keuse oor. Herhaal tot die mengsel opgebruik is. Laat stol 1 uur of oornag.


2. Malvalekkerkoekies

Lewer 16-18 koekies per
pakkie mariebeskuitjies
Bereiding: 10 min.
Mikrogolf: 30 sek. per sarsie
Stol: 30-60 min.

WENK: 

Dié koekies kan ook ná die tyd met gesmelte sjokolade of versiersuiker (sien resep op vorige bladsy) versier word.

Metode
  • Pak 4 Mariebeskuitjies op ’n groot mikrogolfvaste bord. Plaas ’n malvalekker bo-op elkeen. Mikrogolf 
    30 sekondes. Verwyder die bord versigtig uit die mikrogolf. 
  • Plaas nog ’n Mariebeskuitjie op elkeen en druk plat. Pak die koekies op ’n draadrak uit. Herhaal met soveel malvalekkers en koekies soos benodig. 


3. Rice Krispies-koekies

Lewer 8 groot koekies
of 12 blokkies
Bereiding: 15 min.
Mikrogolf: 2-3 min.
Stol: 1 uur of oornag


Metode
  • Bespuit 8 holtes van ’n silikoonmuffinpan met kossproei of voer ’n vierkantige koekpan met bakpapier uit.
  • Sprinkel Jelly Tots op die bodem van die bereide pan.
  • Plaas 150 g malvalekkers in ’n groot mikrogolfvaste glasbak. Mikrogolf 2-3 min. of tot die malvalekkers heeltemal gesmelt is. Roer goed en voeg 4 x 250 ml (4 k) Rice Krispies by. Meng goed en druk in die muffinpan of uitgevoerde koekpan.
  • Laat minstens 1 uur of oornag in die yskas stol. Dop die koekies uit die muffinpan of sny dit in die koekpan in blokke.