Suurlemoenstroop

Meng al die bestanddele vir die suurlemoenstroop in ’n swaarboomkastrol en plaas oor lae hitte tot die suiker oplos. Verwyder van die hitte en sit eenkant tot gereed om te gebruik.

Oliebolle

Plaas die meel, sout en suiker in die bak van ’n elektriese menger. Gebruik die deeghaak en meng stadig tot die bestanddele deeglik gemeng is.

Krummel die suurdeeg by die melk in en breek dit met die agterkant van ’n lepel om op te los. Giet die suurdeegmengsel in die bak en hou aan meng. Voeg die eier by, vermeerder die spoed van die menger en hou aan meng tot die deeg ’n bal vorm en die kante van die mengbak skoonmaak.

Voeg die botter stuk vir stuk by tot ingemeng. Toets die dikte van die deeg; indien dit te nat is, voeg nog ’n bietjie meel by.

Sit die deeg in ’n bak wat liggies geolie is en bedek met kleefplastiek. Plaas in die yskas om oornag te rys of laat staan 1½ tot 2 uur teen kamertemperatuur tot die deeg verdubbel het.

Verhit die olie tot 190 °C in ’n diep swaarboomkastrol.

Haal die deeg uit die bak. Knie die deeg 4-5 min. op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is.

Gebruik 2 teelepels om die deeg in eiervormige balletjies te vorm, of skep die deeg in ’n spuitsak met ’n breë, gewone spuitstuk en hou dit bo die warm olie. Druk sagkens en knip die deeg met ’n skêr in klein, gelyke, ronde stukke terwyl dit in die warm olie val.

Diepbraai die oliebolle terwyl jy dit met ’n gleuflepel omdraai tot dit egalig goudbruin is (sowat 1 min. weers­kante).

Skep die oliebolle met ’n gleuflepel uit die olie en plaas dit vir ’n paar minute in die suur­lemoenstroop om die stroop op te suig.

Sit voor saam met roomys.