Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer 2 groot bakplate uit met bakpapier en bespuit met kossproei.

  • Deeg: Klits die botter met ’n elektriese klitser tot lig en donsig. Voeg die strooisuiker by en klits tot glad. Giet die rooswater of vanieljegeursel by en klits tot gemeng. Klits die eiers een vir een by.
  • Voeg die meel en sout by en meng tot ’n stywe deeg vorm. Keer die deeg uit, verdeel in drie bolle en bedek met kleefplastiek. Verkoel minstens 1 uur.
  • Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en druk vormpies met koekiedrukkers. Pak die koekies op die bakplate en herhaal tot al die deeg op is.
  • Bak elke baksel koekies 10-12 min. of tot gaar. (Die koekies bly lig van kleur.) Pak op ’n draadrak om heeltemal af te koel.
  • Versiersel: Kleur die fondantversiersel met die kleursel. Meng die versiersuiker en suurlemoensap tot ’n pasta vorm.
  • Rol die versiersel uit en versier die koekies soos verkies – gebruik die versiersuikerpasta om die fondant op die koekies vas te plak. Laat die koekies ’n uur staan sodat die versiersel kan uitdroog en plaas dit dan in ’n lugdigte houer.