Maak jou eie aftreksel by die huis 

’n Aftreksel is die ideale plan met oorskiet-vleisbene en -groente. Jy kan selfs groente-skille in jou aftreksel gebruik.

  • Smeer ’n groot bakplaat met ’n bietjie olie. Versprei 1-2 kg hoender- of beesvleisbene op die bakplaat en drup nog ’n bietjie olie oor.
  • Rooster die bene 30-45 min. in die oond by 200 °C of tot die bene lekker bruin gebraai is.
  • Braai intussen 2 gekapte uie, 2 gekapte wortels en 2 lourierblare in ’n diep pot. 
  • Voeg die bene en enige vet wat op die bakplaat agterbly by die groente in die pot en bedek met water.
  • Laat die aftreksel sowat 3-4 uur stadig oor lae hitte kook of tot dit geurig is.
  • Laat afkoel en dreineer die aftreksel deur ’n sif of vergiettes.
  • Hou die aftreksel (vloeistof) en gooi die bene en groente weg.
  • Bêre die aftreksel in ’n groot beker in die yskas of vries in sakkies tot jy dit nodig kry.

WENK

Voeg ’n paar gekneusde knoffelhuisies of selfs ’n ekstra bondeltjie vars kruie by as jy die aftreksel ekstra geurig wil maak. Jy kan ook die aftreksel stadig oornag in ’n prutpot laat kook.

Maak jou eie noedels tuis

Beproef gerus hierdie maklike noedelresep by die huis.

  • Meng 500 ml (2 k) meel en ’n knippie sout.
  • Klits 2 eiers, 80 ml (¹⁄3 k) melk en 15 ml (1 e) olie saam.
  • Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die eiermengsel in.
  • Meng met ’n vurk tot die mengsel begin saamkleef.
  • Keer die mengsel op ’n oppervlak uit en knie tot dit ’n deeg vorm – voeg nog meel bietjie- bietjie by indien die deeg te klewerig is. 
  • Knie die deeg sowat 5 min. tot dit glad en elasties is.
  • Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus 30 min. 
  • Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit – tot so dun soos wat jy jou noedels wil hê – en sny dan in repe.
  • Sprinkel nog meel oor die noedels en maak seker die noedels kleef nie aanmekaar nie. 
  • Bring ’n pot gesoute water tot kookpunt en kook die noedels 2-3 min. of tot die noedels op die oppervlak begin dryf.
  • Dreineer en gebruik dadelik.

WENK

As jy sukkel om die noedels lekker dun uitgerol te kry,  kan jy ook ’n pastamasjien (indien jy een het) hiervoor inspan. 

Maak jou eie pesto 

  • Pesto word tradisioneel met dennepitte gemaak, maar vir ons sakpas resep gebruik ons eerder geroosterde sonneblomsade.
  • Rooster 125 ml (½ k) sonneblomsade in ’n droë pan tot dit begin verkleur.
  • Laat heeltemal afkoel en sit in ’n voedselverwerker.
  • Voeg 60 ml (¼ k) geras­perde harde Italiaanse kaas of beleë cheddar, 1 knoffelhuisie en ’n groot hand vol (of ’n styfgedrukte koppie) gemengde vars sagte kruie (soos basilie, pietersielie, roket en koljander) by en pols tot fyn en goed gemeng.
  • Hou die voedselverwerker aan en giet geleidelik 60-80 ml (¼-¹⁄3 k) olyf­olie by tot die pesto glad en effens loperig is.
  • Geur met ’n skeut suurlemoensap en ’n knippie sout, indien verkies.
  • Gebruik die pesto dadelik of skep in ’n skoon fles, bedek die oppervlak met nog ’n bietjie olyfolie en seël goed.
  • Verkoel tot ’n week in die yskas.

Kook jou noedels reg 

Eiernoedels 

  • Hierdie noedels is soortgelyk aan algemene droë pasta. Bring ’n pot soutwater tot kookpunt – die water moet lekker vinnig kook – en kook die noedels 10-12 min. of tot al dente.
  • Dreineer die noedels en sit dit dadelik voor.

Rysnoedels 

Vir dun vermicelli-rysnoedels: Sit die noedels in ’n bak, bedek met kookwater, bedek met ’n bord of kleefplastiek en laat 15 min. week. Dreineer en gebruik soos nodig.

Vir dikker rysnoedels: Kook 3-5 min., dreineer en sit voor.

Kitsnoedels

  • Dis binne 2-5 min. gaar. Kook die noedels volgens die aanwysings op die verpakking.
  • Jy hoef nie altyd die geurmiddels te gebruik wat in die noedels se verpakking kom nie – los dit uit, indien verkies, en geur die kookwater eerder net met 15 ml (1 e) sojasous. 

Vars noedels

Jy kan hierdie noedels sommer net so by ’n roerbraaigereg voeg.

  • Die noedels hoef nie altyd vooraf gekook te word nie, tensy jy dit as ’n bykos gebruik – kook dan die noedels net 3-5 min. 

Beproef hierdie heerlike resepte:

1. ROMESCO-NOEDELS MET STEAKREPIES EN GEKNEUSDE TAMATIES

noedels
Foto: Jacques Stander

2. PESTO-NOEDELS MET KRUMMELHOENDER

noedels
Foto: Jacques Stander

3. KITSNOEDELS MET RISSIE-OLIE

noedels
Foto: Jacques Stander

4. SAMPIOEN-RAMEN

noedels
Foto: Jacques Stander

5. TUISGEMAAKTE PAD THAI-NOEDELS 

noedels
Foto: Jacques Stander