• Raviolideeg: Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot dit soos growwe, natterige broodkrummels lyk.
  • Strooi die meel op ’n werkoppervlak, verwyder die deeg uit die voedselverwerker en knie sowat 10 min. tot die deeg glad en syerig is.
  • Draai in kleefplastiek toe en laat 20-30 min. rus op ’n koel plek of in ’n yskas as dit baie warm is.
  • Vulsel: Braai die preie in 20-30 ml (1-2 e) van die botter in ’n pan oor ’n lae tot matige hitte tot deurskynend (moenie verbruin nie). Hou eenkant en laat afkoel. Plaas 30 ml (2 e) botter in die pan en braai die garnale tot net gaar en pienk. Laat afkoel.
  • Plaas die garnale en preie in ’n voedselverwerker en kap fyn, maar moenie verpulp nie. Geur met die sout en peper. Roer die grasuie, pietersielie en suurroom of crème fraîche by. Verkoel tot gebruik.
  • Ravioli: Verdeel die deeg in 4 gelyke dele. Rol elke deel deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n langwerpige vel uit van sowat 1,5 mm dik.
  • Skep teelepels van die vulsel op twee van die velle deeg, taamlik ver uitmekaar.
  • Verf die water teen die kante en al om elke hopie vulsel. Plaas die 2 orige velle deeg oor elk van dié met vulsel.
  • Druk die deeg goed vas om die kante en vulsel en maak seker daar is geen lugborrels nie.
  • Sny in vierkante deur met ’n deegsnyer om elke hopie te sny. Plaas vir sowat 10 min. in die yskas en laat rus terwyl die sous gemaak word.
  • Sous: Gebruik ’n swaarboompot en soteer die ui, steranys en garnaaldoppe in die botter tot die ui deurskynend is. Voeg die knoffel en rissies na smaak by en braai ’n paar minute. Giet die brandewyn by en roerbraai 3 min.
  • Voeg die aftreksel en lemmetjieblare by en kook tot die mengsel met twee derdes verminder het. Dreineer die mengsel deur ’n fyn sif en giet die vloeistof terug in die pot. Verlaag die hitte en voeg die suurroom of crème fraîche by. Roer goed deur en kook oor ’n lae hitte tot die sous effens verdik.
  • Ravioli: Plaas ’n paar ravioli op ’n keer in ’n groot pot kokende soutwater en kook tot dit bo-op dryf en al dente is (net ’n paar minute).
  • Afronding: Dreineer en plaas in warm pastaborde, giet van die sous oor en rond af met heel pangebraaide garnale. 

“Ek en my man, Gerrit, het pret saam in die kombuis. Dié gereg is een van ons skeppings. Ek oortuig hom gereeld om dié ravioli vir my te maak wanneer ek huis toe kom, want hy maak beslis beter pasta as ek, en dit proe vir my soos liefde en huis.”