• Viskoekies: Dreineer die vis en maak fyn. Behou die sous en giet net genoeg oor die brood om dit aan te klam. Laat staan tot sag en maak fyn. Voeg by die vis.
  • Braai die helfte van die ui in ’n klein bietjie olie in ’n pan. 
  • Vou die gebraaide sowel as die rou ui in die vis.
  • Voeg die knoffel, kaas en kruie by en meng. Geur met sout en peper, voeg die eier by en meng deur.
  • Vorm viskoekies en bak in verhitte vlak olie tot bruin buiteom. 
  • Fynaartappel: Meng die aartappels, botter en bakpoeier tot goed fyn en glad. Roer die fyngerasperde suurlemoenskil in.
  • Salsa: Meng al die bestanddele vir die salsa.
  • Sit alles saam voor. 

Kennis van kos

Dié week se wenner, Dylan Mavakla, saam met Nicolene Olivier (links) en Judi Psarrakis. Foto: Jacques Stander

Al drie deelnemers aan vandeesweek se TV-program is gek oor kos maak, maar wou ook graag meer weet van die wetenskap daaragter; daarom studeer hulle voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. 

Judi Psarrakis kom van Namibië, terwyl Nicolene Olivier van Durbanville en Dylan Mavakla van Grassy Park is. 

Die hoender-en-spekrollade wat Nicolene vir ons berei het, was een van die eerste geregte wat sy op universiteit leer maak het. Daarvoor het ’n mens nie ’n oond nodig nie; dit word sommer in die pan aanmekaargeslaan. 

Judi het romerige hoender in ’n sam­pioensous vir haar pastagereg gemaak. 

Dylan het sy ouma se treffer-viskoekieresep afgestof en dit saam met geurige fynaartappel voorgesit.

Eindelik was dit nostalgie wat die botoon in die Wenresep-kombuis gevoer en vir ’n waardige wenner gesorg het.

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproductions.co.za as jy as deelnemer oorweeg wil word.