• Plaas ’n platboompotjie oor matige kole en verhit die botter. Voeg die preie daarby en soteer tot sag. Voeg die knoffel by en geur met die sout en peper. Giet die wyn by en laat prut 5 min. tot die alkohol weggekook is.
  • Voeg die mossels by die potjie, plaas die deksel op en laat stoom 6-8 min. of tot al die mossels oopgegaan het (raak ontslae van dié wat nie oopgaan nie). Roer die oop mossels deur die wyn, knoffel en preie.
  • Asbrood: Meng die meel, droë gis, sout en roosmaryn in ’n groot bak. Maak ’n holte in die middel en giet die olyfolie en water daarin. Meng die water en meel met jou hande tot ’n deeg vorm. Plaas dit op ’n meelbestrooide oppervlak en knie tot glad. Sit die deeg terug in die bak, bedek met ’n lap en laat rys 30 min. of tot die deeg in grootte verdubbel het.
  • Knie die deeg af sodra dit gerys het en verdeel dit in klein ronde vormpies, omtrent so groot soos ’n piering. Plaas die deeg direk in die warm as aan die buiterand van die vuur en bedek met nog as en kole.
  • Bak die asbrood sowat  15-20 min. en sit voor saam met die mossels en suurlemoenwiggies.