In die televisieprogram Klankbord kry topsjefs die geleentheid om die liedjies van sangers as ’n bord kos te interpreteer. Die programaanbieder, Ilse van der Merwe, daag saam met die sanger by die eetplek op om dié spesiale skeppings te proe.

ilse van der merwe,via,klankbord
Ilse van der Merwe is die aanbieder van die program Klankbord op VIA (DStv-kanaal 147). Foto: Verskaf

Vir Huisgenootlesers het sy spesiaal van die sjefs se fynproewersgeregte omskep in makliker weergawes wat jy self by die huis kan berei.

1. Braaisnoek met suurlemoen-knoffelsous

Die sjef Philip Pretorius van Barley & Biltong by Spice Route, Paarl, gee ’n smulkos-interpretasie aan Jack Parow se liedjie P.A.R.T.Y. 

klankbord,resep,suurlemoen,knoffel,braai,snoek
Braaisnoek met suurlemoen-knoffelsous. Foto: Misha Jordaan

Ilse en Jack moes 10 jaar gelede na afloop van die Vryfees in Bloemfontein op die lug­hawe agterbly nadat die vlug volbespreek was.

’n Goedhartige vreemdeling het aangebied om hulle op sy plot te huisves, waarna hy vir hulle ’n treurige braai aangebied het wat hulle nooit sal vergeet nie. Philip het besluit om hulle te bederf met sy topbraairesepte, onder meer ’n vars snoek oor die kole.

2. Maklike mosselpasta

Die bekende eienaarsjef van Reuben’s op Franschhoek, Reuben Riffel, sit ’n seekosbord voor op die maat van Freshlyground se I’d Like.

klankbord,resep,mossel,pasta
Maklike mosselpasta. Foto: Misha Jordaan

Dié liedjie gaan oor ’n “elektriese” eerste ontmoeting, en dit het Reuben laat dink aan daardie wonderlike gevoel van verliefdheid toe hy en sy vrou, Maryke, mekaar aan die begin van hul verhouding beter leer ken het. Hulle het saam talle kusdorpies besoek en baie seekos geëet.

3. Wildfilethappie met Oosterse doopsous

Die sjef Virgil Kahn van Indochine op Delaire Graff Estate, Stellenbosch, het sy wilds­filet berei om by Vicky Sampson se My African Dream te pas.

klankbord,resep,doopsous,filet
Wildfilethappie met Oosterse doopsous. Foto: Misha Jordaan

Virgil vertel hoe hy die wêreld vol reis om oor ander koskulture (veral Asië) te leer sodat hy dit op eie bodem kan weergee. Dis vir hom ’n “African Dream” om plaaslike wildsvleis op ’n internasionale platform te kan voorsit.

4. Stadig gebakte lamsblad

Die sjef Nic van Wyk van Haute Cabrière, Fransch­hoek, het ’n skaapblad op die maat van Loki Rothman en Laurika Rauch se duet Blou stadig in die oond tot perfeksie gebak.

klankbord,gebak,lamsblad
Stadig gebakte lamsblad. Foto: Misha Jordaan

Wanneer hy na sy geliefde verlang (soos in die lied gesing word), dink hy aan Sondagkos, en die eerste ding wat hy dan wil maak, is stadig geroosterde lamsvleis. Kos wat met liefde en sorg berei is, is die beste doepa vir ’n blou hart.

5. Murgbene op roosterbrood met sampioene en beet

Die sjef Chris Erasmus van Foliage op Fransch­hoek het sy fynproewersmurgbeen­gereg ontwikkel as pasmaat by Van Coke Kartel se Tot die Son Uitkom.

klankbord,resep,roosterbrood,sampioene
Murgbene op roosterbrood met sampioene en beet. Foto: Jacques Stander

Dié liedjie is geskryf oor twee geliefdes wat baklei het, maar mekaar lief genoeg het om te weet dit sal oorwaai. Chris bring graag tyd in die woud deur wanneer hy sy kop wil skoonmaak ná ’n meningsverskil met sy vrou en kook daarna vir haar trooskos soos murg op roosterbrood. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!