1. Prentjiemooi partytjiekos

Prentjiemooi partytjiekos. Foto: Gallo Images/ Get
Prentjiemooi partytjiekos. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Partytjiehappies trek 'n spoggerige baadjie aan met borde eetgoed wat oordadiger en visueel aantrekliker word.

Kouevis is een van die jongste giere – seekos wat gepiekel, gegis, gerook of verouder is, word saam met kouevleis, groente, vrugte en ander lekkertes voorgesit.

2. Klein koskenners

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kinders kan uitsoekerige eters wees, maar Millenniër-ouers maak nou 'n geslag fynproewers groot. 

Die kleinspan se palet is avontuurliker en hulle word geleer om onder meer soesji, salmvingers sonder broodkrummels en pasta wat van alternatiewe meelsoorte gemaak word te geniet.

3. Nie-alkoholies

Ter illustrasie. Foto: Jacques Stander
Ter illustrasie. Foto: Jacques Stander

Dié trend het in onlangse jare posgevat en sal voortduur namate ál meer mense alkoholvry kies. Kammakelkies, fopdoppe of alkoholvrye drankies – hoe jy dit ook al noem – is reeds op byna elke geleentheid te kry. 

Wat wel nuut is, is dat restaurante nou niealkoholiese wyn saam met hul kosgeregte aanbied en spyskaarte met dié pasmaats saamstel. 

4. Anderse botters en smere

botter,saad,resep
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Kekerertjie-, makadamia- en waatlemoensaadbotter en romerige veganistiese smere – dis maar ’n paar van die alternatiewe smere en botterkeuses wat ons vanjaar sal sien.

5. Plante uit die veld en see

Kapokbos. Foto: Gallo Images
Spekboom. Foto: Gallo Images
Spekboom. Foto: Gallo Images

Eetbare blomme en plante soos spekboom, wildesuring, esdoringbloeisels en balseminie gee geregte ’n delikate en unieke soetheid en sal volgens voorspellings in 2020 floreer. 

“Dis nie meer net boegoe wat in die kollig is nie; plaaslike seewier soos seebamboes en klipkombers, en inheemse plante soos seepampoen, waterblommetjies, suurvye, duinspinasie, madumbe ('n knolgroente), noem-noem, soutslaai, kapokbos en die plaaslike truffel is almal voorbeelde van kos uit eie bodem,” sê die sjef Margot Janse.

6.  Nuwe gesonde keuses

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
  • Alternatiewe meelsoorte: Meel wat van groente en vrugte soos pampoen en piesang gemaak word, duik in kombuise op.
  • Stroop: Pleks van na heuning of versoeters gryp, beproef stroopreduksies wat gemaak is van vrugte en groente soos granaat, klapper, patat, sorghum en dadels.
  • Gesond peusel: Mense peusel ál meer deur die loop van die dag aan voedsame eetgoed pleks daarvan om drie maaltye per dag te eet. Hulle verkies ook gesonde happies soos vars vrugte en groente, hardgekookte eiers met 'n souterige vulsel en piekelgroente bo gewone peuselkos soos skyfies.
  • Fleksitariese proteïenprodukte: Vleis-en-plantproteïenmengsels is 'n gewilde nuwe item onder mense wat minder vleis wil eet ter wille van hul eie gesondheid en die planeet s’n. Produkte soos beesvleis-en-sampioenburgers, hoender-en-ertjieproteïenbrokkies en vark-en-lensieworsies smaak heerlik en help ons 'n voedsamer dieet volg.
  • Wegbeweeg van soja: Soja is 'n algemene allergeen, en vegeta­riërs en fleksitariërs verruil soja vir mungbone, hennepsaad, avokado en ander plantaardige alternatiewe.  

7. Vrank smake

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Suur kosse raak gewilder oor presies wat dit nié is nie: soet. Meer mense begin geure waardeer soos asyn, tamaryn en ander bestanddele wat 'n kenmerkende vrank smaak bied. 

Tamaryn word ál meer in Suid-­Afrika gebruik, want dit is 'n alternatief vir suur­lemoen en asyn in die kookkuns. 

8. Eetbare verpakking

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Bewuste verbruikers probeer plastiek vermy en soek goeie produkte wat nie die aarde skaad nie, soos eetbare verpakking. 

Wanneer jy klaar met jou vurk of lepel geëet het, kan jy dit ook eet!

9.  Wêreldkos

Gewilde Fillipynse dis. Foto: Gallo Images/ Getty
Gewilde Fillipynse dis. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die gewildheid van Oosterse geregte sal vanjaar die hoogte inskiet met dié dat die Olimpiese Spele in Japan aangebied word. En sisig, 'n gereg wat van krakerige varkvleis gemaak word, sal jou aan Filippynse kookkuns verslaaf maak.

Verwag ook om meer geregte van Wes-­Afrika te sien; dit word deur geure soos grondbone, tamaties, sitroengras en uie gekenmerk. 

En nader aan die huis sal Xhosa- en Kaaps-­Maleise kos ál gewilder word. 

10. Min moeite en informeel 

Gourmet-burger. Foto: Gallo Images
Gourmet-burger. Foto: Gallo Images

G’n fyn en fênsie kos meer nie – ons eet nou informeel, dankie. 

Die nuwe trend is om in 'n restaurant 'n gourmet-burger, -worsrol of -pizza te bestel. Om kos tuis te laat aflewer is ook aan die toeneem danksy die gerief van aflewerings­dienste.

11.  Brood kry nuwe lewe

Ter illustrasie. Foto: Misha Jordaan
Ter illustrasie. Foto: Misha Jordaan

Brood het die afgelope jare 'n slegte reputasie gekry, maar noudat daar soveel verskillende, gesonde keuses beskikbaar is, maak brood 'n terugkeer. 

En deesdae kry jy jou gesonder broodopsies, byvoorbeeld dié van alternatiewe meelsoorte of wat met sade verryk is, in gewone supermarkte, nie net in gesondheidswinkels nie. 

Die trend is om klipgemaalde meel of selfs meel wat jy self gemaal het te gebruik om jou eie heerlike brood te bak. 

12.  Tuisgemaakte resepteboeke

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Daar is 'n hunkering na tradisionele kookkuns, nes jou ma en ouma altyd kos gemaak het. Baie tuiskokke versamel of kopieer nou hul ma of ouma se resepteboeke in 'n kookboek of lêer sodat hulle dit na die volgende geslag kan oordra.

Ekstra bronne: eat out-tydskrif, eatingwell.com, errieda du toit, forbes.com, goodhousekeeping.com, margot janse, Mari-louis Guy
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.