20 min.
4-6 mense (een tertjie is genoeg vir 2 mense)
60 min.
Bestanddele
- PAPKORS
- 1 L (4 k) kookwater of helfte daarvan volroommelk
- 10 ml (2 t) sout
- 500 ml (2 k) growwe mieliemeel
- 5 ml (1 t) paprika
- 5 ml (1 t) borrie
- 45 ml (3 e) botter
- 50 g cheddarkaas, gerasper (opsioneel)
- VULSEL
- 5 middelslaguie, geskil
- olie
- 30 ml (2 e) suiker
- sout en peper
- 250 g repies spek
- 10 ml (2 t) balsemieke asyn
- 100 g cheddarkaas, gerasper
- EIERVLA
- 125 ml (½ k) volroommelk
- 125 ml (½ k) natuurlike laevetjogurt
- 2 eiers, effens geklits
- die helfte van ’n 50 g-pakkie sampioensoppoeier
- 5 ml (1 t) mosterdpoeier
- sout en peper na smaak
- AFRONDING
- tiemieblaartjies
- tiemietakkies
Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit 3 langwerpige 25 x 8 cm-tertpannetjies goed met kossproei.
- Papkors: Plaas die water en sout in ’n kastrol en roer die mieliemeel geleidelik by. Roer die paprika en borrie by. Kook 20 min. of tot gaar, en roer af en toe. Roer die botter en kaas, indien gebruik, by. Laat afkoel tot kamertemperatuur.
- Druk die mieliepap op die bodem en teen die kante van elk van die bereide pannetjies vas. Laat afkoel en hou eenkant tot nodig.
- Vulsel: Sny die uie in sirkels van 1 cm dik, maar hou die ringe heel. Smeer ’n bakplaat met ’n bietjie olie en pak die uiesirkels bo-op in ’n enkellaag. Sprinkel 15 ml (1 e) suiker oor en geur met die sout en peper. Oondbraai die uie 20 min. en draai die ringe versigtig om. Besprinkel met die oorblywende (15 ml) suiker.
- Pak die spekrepies tussen die uie op die bakplaat. Oondbraai nog 20 min. Sprinkel die asyn oor die uie en oondbraai nog 5 min. Laat afkoel en kap die spek grofweg op.
- Sprinkel die cheddarkaas oor elk van die papkorse.
- Eiervla: Klits al die bestanddele saam en giet oor die kaas. Meng liggies deur.
- Afronding: Sprinkel die spek oor die eiervla en rangskik die uieringe bo-op. Pak die tiemieblaartjies bo-op. Bak 30-40 min. of tot die eiervla gestol is. Rond die tertjies af met die vars tiemietakkies.
Ons wil graag hê jy moet langer kuier.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET