1. Tamatie-sous

Lewer: 2 L

Bereiding: 20 min.

Gaarmaak: 40-60 min.  

Bestanddele

2 kg ryp tamaties, met skil en al (Roma- of konfyt­tamaties werk goed) 

4-6 knoffelhuisies, fyngekap  ’n goeie hand vol origanum  

2-3 lourierblare en/of ’n takkie roosmaryn  ’n goeie hand vol basilie  ’n goeie hand vol pietersielie 

1 of 2 sakkies (50 g elk) tamatiepasta 

sout en vars gemaalde swartpeper 

10 ml (2 t) bruinsuiker 

60 ml (¼ k) olyfolie

Metode

  • Plaas die tamaties, knoffel en kruie saam met die tamatiepasta in ’n dieperige kastrol. Laat sowat 30 min. oor stadige hitte prut tot die tamaties sag en geurig is en die meeste water verdamp het. Geur na smaak met die sout en peper en bruinsuiker.
  • Verwyder die lourier­blare en/of roosmaryn­takkie en plaas die mengsel in ’n voedselverwerker. Verwerk tot goed fyngekap.
  • Giet die olyfolie deur die tuit by en pols tot fyn en romerig. 4 Skep in skoon flesse en hou in die yskas.

2. Basiese oonddroë piekel-tamaties 

Lewer: 500-750 ml (2-3 k) 

Bereiding: 20 min.

Bak: 20 min.

Piekelsous 

Bestanddele  

250 ml (1 k) water 

125 ml (½ k) appel- of rys­asyn 

80 ml ( k) suiker 

10 ml (2 t) geel mosterd­saadjies of 5 ml (1 t) mosterd­poeier 

4 takkies vars tiemie, 2 takkies roosmaryn of basilieblare

Oondgeroosterde tamaties  

Bestanddele

500 g vars kersietamaties, gehalveer 

30 ml (2 e) seesout 

5 ml (1 t) swartpeper

10 ml (2 t) droë gemengde kruie  

60 ml (¼ k) wit asyn 

125 ml (½ k) olyfolie 

Metode 

Voorverhit die oond tot 190 ºC.

  • Piekelsous: Plaas die bestanddele buiten die kruie in ’n kastrol en kook goed saam. Hou eenkant
  • Oondgeroosterde tamaties: Plaas die tamaties met die oop kant na bo op ’n bakplaat.
  • Meng die sout, peper en kruie en sprinkel oor die tamaties. Drup die asyn en olyfolie oor.
  • Oondbraai sowat 20 min. of tot die tamaties verskrompel en die buitekante effens verbruin het. Laat afkoel.
  • Pak die tamaties in ’n skoon fles of houer met ’n styfpassende deksel. Voeg die kruie by en giet die sous oor. Maak toe en bêre in die yskas. (Die tamaties sal tot ses maande lank hou.)