Benewens dat ek daarvan hou om sommer bondels kruie by vleis en groente in te druk voor dit oond toe gaan, verwerk ek dit ook graag in allerhande vinnige souse wat ek in ’n kitskoffieflessie skep en in die yskas hou. Dis ideaal as jy vinnig moet kos maak.
Op dié manier word al die kruie, wat andersins onder in die groentelaai vergete sou bly, goed hergebruik.
1. ROMERIGE WITWYNHOENDER MET ’N KRUIEBOSSIE
’n Bouquet garni of kruiebossie bestaan uit klassieke kruie soos roosmaryn, tiemie, pietersielie en lourierblare wat in ’n bossie gebind word en dan aan veral vleis- en stowegeregte geur gee.
2. FILO-KRUIETERT
’n Kombinasie van sagte kruie soos pietersielie, ment en basilieblare word saam met spinasie by ’n roomkaasbasis ingeroer.
3. GEBAKTE BLOMKOOL MET KOLJANDERPESTO
Die koljanderpesto word gemaak met pampoensaad en pecorinokaas, wat heelwat goedkoper is as parmesaan, en gee veral lekker geur aan groente soos blomkool, broccoli en botterskorsie.
Die blomkool word eers gemarineer voor dit gebak word, en met die afvalstukkies kook jy ’n romerige puree.
4. PLATHOENDER MET CHERMOULA
Chermoula is ’n geurige speserykruiesous van Noord-Afrika wat nie net goed saam met hoender gaan nie, maar veral lekker is op lamsboud.
5. VIS MET THAISE KRUIESOUS
Koljanderblare, gemmer, sesamsade en soja- sous vorm die basis van hierdie onverbeterlike sous wat veral wondere verrig aan vis.
6. GEBAKTE AARTAPPELS MET GREMOLATA
Gremolata is ’n mengsel van pietersielie, knoffel en suurlemoen en ’n vinnige manier om geur aan kos te gee. Sprinkel dit laaste oor sop, bredies of groente.
7. KRUIE-FILET OP SOUT MET SALSA VERDE
Dubbele kruielekkerte! Nadat die filet in knoffelbotter en kruie gerol is, bak dit op ’n soutbed tot salige lekkerte. Salsa verde is ’n Mediterreense kruiesous en heerlik saam met vis.
8. KLAM SJOKOLADEKOEK MET KRUIE
Roosmaryn en tiemie verskaf ’n interessante smaak aan hierdie lekker klam sjokoladekoek.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET