Griekse gevulde sampioene

(Die resep kom uit VIA se Kom Ons Braai.)

Bestanddele

1 sampioen per gas
1 k gekapte uie
olyfolie
knoffel, fyn gekap
2 k vars spinasieblare
½ k fetakaas, gekrummel
½ koppie parmesaankaas, gerasper
½ koppie broodkrummels
1 groot eier geklits
sout
peper
½ k gekapte kalamata-olywe, vir garnering

Metode

  • Vee die sampioene skoon. Breek dan die steeltjies af en sny dit op.
  • Verhit een eetlepel olyfolie in ’n pan oor medium hitte. Voeg die sampioenstingels, gekapte ui en knoffel in die pan en braai tot die uie deursigtig is.
  • Voeg die gekapte spinasie by en kook vir ’n minuut tot die spinasie verlep is. 
  • Haal die mengsel van die hitte af en plaas eenkant om af te koel.
  • Meng die sampioenmengsel, kase, broodkrummels, geklitste eier en speserye saam.
  • Olie ’n bakplaat met olyfolie en plaas die sampioene op die bakplaat.
  • Verf dan die sampioene se bokante met olyfolie en geur met sout en peper.
  • Vul elke sampioen met die mengsel en bak vir 15 tot 20 minute.
  • Maak seker die tinfoelie raak nie aan die kaas nie.
  • Sit voor.

Groente-sosaties

(Die resep kom uit VIA se Kom Ons Braai.)

Bestanddele

babasampioene, opgesny
murgpampoentjies, opgesny
geel, rooi en groen soetrissies, opgesny
gepekelde baba-uitjies, opgesny
sosatiestokkies
Ina Paarman se groentespeserye
olyfolie

Metode

  • Ryg die babasampioene, murgpampoentjies, soetrissies en baba-uitjies aan die stokkies en geur met die speserye en olyfolie.
  • Braai sowat 10 min. voor jy voorsit.

Soetpatatrol

(Die resep kom uit VIA se Kom Ons Braai.)

Bestanddele

1 kg soetpatat
botter
stroop
melasse-suiker
kaneel
suiker
1 rol skilferdeeg
500 ml room

Metode

  • Skil en sny die soetpatat in skywe.
  • Plaas in die pot met ¼ koppie water en ½ koppie botter. Voeg ook dadelik ¼ stroop en ¼ koppie
  • melasse-suiker by. Voeg die kaneel en suiker by vir smaak.
  • Laat prut op ’n baie lae hitte tot bruin en so ’n bietjie taai.
  • Wanneer die soetpatat reg is, maak fyn en laat heeltemal afkoel.
  • Rol die skilferdeeg uit en smeer die afgekoelde patat eweredig oor die deeg.
  • Rol dan soos ’n Switserse rolletjie op en plaas in die vrieskas vir omtrent 30 min.
  • Haal die rol uit en sny dit in skywe soos jy ’n Switserse rol sou sny. Plaas die rolletjies plat in ’n bak.
  • Maak seker daar is genoeg ruimte tussen die rolle.
  • Giet die room oor.
  • Sit so ’n bietjie melasse-suiker op elke rolletjie, asook ’n bietjie in die room tussen die rolletjies.
  • Bak op die kole oor ’n matige hitte ongeveer 40 min.

Gevulde soetrissies

(Die resep kom uit VIA se Kom Ons Braai.)

Bestanddele

fetakaas
cheddar
mozzarella
roomkaas
knoffel, gerasper
gaar spek, fyn gekap
sout en peper
roosmaryn-en-olyf-speserye
soetrissies, gehalveer en pitte verwyder

Metode

  • Meng die kase, knoffel en spek en geur met die sout, peper en speserye.
  • Skep die mengsel in die soetrissiehelftes.
  • Pak in oondbakkies en bedek met tinfoelie.
  • Rooster 20-40 min. in die bakkies oor die kole.

Braaibolletjies met roomsous en kaas

(Dié is ’n Huisgenoot-resep.)

Genoeg vir 8 mense | Bereiding: sowat 30 min |Gaarmaak: 40-50 min |Staan: 40 min

Bestanddele

1 kg gekoopte brooddeeg
1 pakkie aartappelgebak (geur van jou keuse)
250 ml (1 k) vars room
250 ml (1 k) melk
1 knoffelhuisie, fyn gekap
250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas

Metode

  • Voorverhit die oond tot 180 °C.
  • Bespuit ’n oondbak met kossproei.
  • Laat die deeg tot dubbel die grootte rys.
  • Meng die res van die bestanddele behalwe die kaas.
  • Giet die helfte van die roommengsel in die bak.
  • Knie die deeg af, maak bolletjies en pak dit in die roommengsel. Giet die res van die roommengsel oor en sprinkel die kaas oor.
    Bak.

Spinasie-en-kaas-braaipastei

(Dié is ’n Huisgenoot-resep.)

Genoeg vir 6 mense | Bereiding: 10 min |Braai: 20-30 min.

Bestanddele

2 rolle (400 g elk) skilferkorsdeeg
1 ui, in skyfies gesny
2 hande vol babaspinasie
1 pakkie (50 g) wituiesoppoeier
2 wiele fetakaas
100 g mozzarellakaas, gerasper
60 ml (¼ k) gerasperde parmesaankaas
1 eier, geklits

Metode

  • Spuit ’n skoon rooster met kossproei.
  • Plaas een van die velle deeg op die rooster. Versprei die ui en babaspinasie bo-oor. Sprinkel die soppoeier oor.
  • Sprinkel die feta, mozzarella en parmesaan oor.
  • Plaas die ander vel deeg versigtig bo-op en seël die kante met ’n vurk. Verf met die geklitste eier en knyp die rooster toe.
  • Braai 20-30 min. oor matige kole of tot gaar en goudbruin aan albei kante.

Kaserige patats

(Dié is ’n Huisgenoot-resep.)

Genoeg vir 3 mense | Bereiding: 20 min |Gaarmaak: 40-60 min

Bestanddele

Patats
3 patats
Vulsel
230 g roomkaas
5 ml (1 t) basiliepesto
5 ml (1 t) roketpesto
5 ml (1 t) songedroogte tamatiepesto
2-3 vars aspersies, gestoom
2-3 langsteel-broccoliboompies, gestoom
125 ml (½ k) spinasie, lig gestoom

Metode

  • Patats Draai die patats in tinfoelie toe en bak 40-50 min. op matige kole tot gaar. Sny oop.
  • Vulsel Meng die roomkaas en pesto en skep in elke patat.
  • Pak die aspersies, broccoli en spinasie bo-op.
  • Plaas die gevulde patats op ’n rooster op matige kole tot die kaas gesmelt het.

Geroosterde mielies in die Cajun-styl

(Dié is ’n Huisgenoot-resep.)

Genoeg vir 6 mense |Bereiding: 10 minute |Gaarmaak: 20 minute

Bestanddele

6 mielies
60 ml (¼ k) botter, gesmelt
Cajun-speserye
5 ml (1 t) sout
10 ml (2 t) knoffelpoeier
12,5 ml (2½ t) paprika
5 ml (1 t) fyn swartpeper
5 ml (1 t) uiepoeier
5 ml (1 t) rooipeper
7,5 ml (1½ t) droë origanum
7,5 ml (1½ t) droë tiemie
2,5 ml (½ t) rooi brandrissievlokkies

Metode

  • Maak die mielies skoon. Kook 8-10 min. in ’n pot kookwater. Dreineer en pak op kombuispapier. Maak goed droog.
  • Verf met die gesmelte botter. Braai of rooster die mielies 10-12 min.
  • Cajun-speserye Meng al die Cajun-bestanddele en strooi oor die mielies.
  • Sit voor saam met gesmelte botter.

Kliek hier en wen die braai van jou lewe.