• Vleis: Verwyder die swoerd en hou eenkant. Sny kepe in die vetlaag van die vleis.
  • Plaas die knoffel, kruie, suurlemoenskil en brand­rissievlokkies saam met die sout in ’n vysel en stamp fyn.
  • Smeer die vleis alkant goed in. Plaas vir 2 uur of oornag in die yskas. Geur alkant met die peper en drup die olyfolie oor.
  • Voorverhit die oond tot 140 °C.
  • Groente: Pak die aartappels in ’n oondbraaipan, geur met die sout en sprinkel die knoffel, vinkel en tiemietakkies oor. Giet ’n bietjie water by en drup van die olyfolie oor.
  • Plaas die vleis op ’n oondrak bo-op die oondbraaipan. (Vryf die swoerd met die sout in en plaas op ’n aparte bakplaat.) Oondbraai 2 uur tot ’n interne temperatuur van 65 °C. (Roer die aartappels van tyd tot tyd deur en verwyder uit die oond wanneer gaar.)
  • Verhoog die temperatuur tot 230 °C en oondbraai nog 15-20 min. tot die vet lekker bros en bruin is.
  • Kap die swoerd grof op en sprinkel oor die oondbraad.
  • Vir voorsit: Sit voor saam met die aartappels, vinkel en groenbone met olywe: Stoom 300 g groenbone tot net sag maar bros. Roerbraai in olyfolie en botter saam met ’n gekapte brand­rissie en swart olywe.

Varknek is heerlik gemarmer en lewer ’n sappige heel oondbraaigereg. Bak die swoerd apart en geniet hierby. Dit is onverbeterlik.

BESTE WAARDE VIR GELD

Die bekostigbaarste snitte

  • Pootjies
  • Varkboud met been – ekonomiesste en veelsydigste snit
  • Skenkel
  • Skouer/nek – sappigste en sagste snit; kan in steaks gesny word of heel (ook gevul in oond of gepotbraai); beste snit om blokkies vir Oosterse geregte of kebabs uit te sny
  • Kruisstuksteaks (Porterhouse-steaks word ook uit kruis gesny)
  • Ghoelasjblokkies (uit die boud gesny)
  • Roerbraairepies
  • Varkliesrepies
  • Maer maalvleis

Duurste snitte 

  • Filet 
  • Lendetjops 
  • Braairibbetjie (hoewel nie duur per kilogram nie, benodig ’n mens baie per porsie) 
  • Ribtjops 
  • Varklies

Wenk

Dikwels word van die beste varksnitte nie in die winkeltoonbank uitgestal nie. Die slaghuispersoneellede sal met graagte vir jou die varksnit van jou keuse uit die regte deel van die karkas sny. Moenie bang wees om dit vooraf te bestel of daarvoor te vra nie; dis altyd die moeite werd.