Hou ’n groot oondbak of twee middelslagpastei­bakke byderhand. Gebruik 2 groot aluminiumvries­bakke vir vries.

  • Vark: Geur die varkvleis met die sout en peper.
  • Verhit die olyfolie in ’n drukkoker en verbruin die vleis in sarsies. Voeg die ui, lourierblare en aftreksel by en bedek met water. Kook 1 uur tot 1 uur 30 min. onder druk of tot die vleis sag is en van die been afval.
  • Haal die vleis uit die kastrol en hou die vloeistof. Verwyder enige bene, vel en oortollige vet en gooi weg.
  • Vulsel: Verhit die olyfolie in ’n diep pan en braai die uie en knoffel tot geurig. Voeg die wortels en sampioene by en braai tot gaar.
  • Strooi die meel oor die groente en meng goed. Voeg 250 ml (1 k) van die kookvloeistof van die vark by en meng deur. Laat prut oor matige hitte en roer af en toe tot die mengsel effens verdik het. Verlaag die hitte en voeg die vark by. Voeg nog van die kookvloeistof by as die mengsel te droog lyk.
  • Voeg die res van die bestanddele by en geur met sout, indien nodig. Haal die vulsel van die hitte af en laat heeltemal afkoel. Verdeel die vulsel tussen die bakke.
  • Vir afronding: Rol die deeg uit op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is. Bedek die pasteibakke met die deeg en sny oortollige deeg af. Druk die deeg styf om die vulsel en knyp die rande toe. Versier die pasteie met die orige deeg indien verlang.
  • Maak ’n gleuf in die middel van elke pastei. Vries vir later (bedek die pasteie met kleefplastiek) of verf liggies met die eier en bak 25-30 min. by  180 °C of tot die pastei goudbruin is.

WENK

As jy die pasteie vries voor jy dit gaarmaak, ontvries dit oornag in die yskas, verf met die eier en bak soos bo.