• Rys: Plaas die rys en 500 ml (2 k) water in ’n kastrolletjie. Bring tot kookpunt en kook tot die meeste water weggekook het en die rys klewerig en gaar is. As die rys nog nie gaar is nie en al die water weggekook is, voeg nog water bietjies-bietjies by. 
  • Haal die rys van die hitte af en roer die asyn en suiker by. Skep die rys op ’n bakplaat en maak gelyk. Plaas vir ongeveer 1 uur of tot afgekoel in die ys- of vrieskas.
  • Soesji: Plaas ’n vel kleefplastiek op ’n werkoppervlak. Skep van die rys op die kleefplastiek en vorm ’n reghoek van ongeveer 1 cm dik en die grootte van ’n A4-bladsy. Maak jou vingerpunte nat.
  • Pak ’n laag komkommerlinte op die rys. Pak ’n ry biltong, avokado en soet­rissie oor die lengte van die rys en rol styf op. 
  • Draai die rol toe met die kleefplastiek en verkoel 30 min. Herhaal met die res van die bestanddele.
  • Vir afronding: Haal die rolle uit die kleefplastiek en rol in die biltong en sesamsaadjies. Sny met ’n skerp mes in wiele.
  • Vir voorsit: Meng die soja­sous en rissie en sit voor saam met die soesji.