24 jaar ná haar dood: Prinses Diana se standbeeld oop vir publiek

akkreditasie
Die standbeeld van wyle prinses Diana sal op Dinsdag 31 Augustus spesiaal vir die publiek oopgestel word op die 24ste herdenking van haar dood.
Diana standbeeld.
Die bronsstandbeeld van wyle prinses Diana wat op 1 Julie 2021 in die gesonke tuin by Kensingtonpaleis in Londen onthul is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die prinses van Wallis is op 31 Augustus 1997 op 36 in 'n motorongeluk in die Franse hoofstad, Parys, oorlede.

Dié wat hulde wil bring aan die "prinses van harte" - soos sy bekend was - kan dit vanjaar doen by die nuwe standbeeld wat op 1 Julie op wat haar 60ste verjaardag sou wees, in die gesonke tuin van Kensingtonpaleis in Londen onthul is.

Haar twee seuns, prins William (39) en prins Harry (36), het in 2017 die opdrag vir die standbeeld gegee. 

Kensingtonpaleis en sy tuine is net op sekere tye oop weens die covid-19-pandemie. Spesiale reëlings is getref om besoekers Dinsdag tussen drieuur en vyfuur toegang te gee sodat hulle Diana se standbeeld kan besigtig op die 24ste herdenking van haar dood.

Toegang vir die publiek is gratis en mense hoef nie vooraf te bespreek om die standbeeld te besoek nie. Besoekers mag nie die standbeeld nader of blomme daar neersit nie.

William en Harry, wie se verhouding die afgelope ruk maar krapperig was, het op 1 Julie vanjaar hul verskille opsygesit om die standbeeld van hul ma te onthul. Harry het van sy tuiste in Santa Barbara, Kalifornië, na Londen gereis vir die geleentheid. Dit was kort nadat sy vrou, Meghan (40), die lewe geskenk het aan hul tweede spruit, hul dogtertjie, Lilibet Diana, wat nou twee maande oud is. Hul eersteling, Archie, het in Mei sy tweede verjaardag gevier.

William en Harry het nie individuele toesprake gelewer nie, maar 'n gesamentlike verklaring uitgereik. “Dit is 20 jaar sedert ons ma se dood en die tyd is reg om haar positiewe impak in die Verenigde Koninkryk en oor die hele wêreld met 'n permanente standbeeld te erken. Ons ma het soveel lewens geraak. Ons hoop dat die standbeeld almal wat Kensingtonpaleis besoek, sal help om na te dink oor haar lewe en haar nalatenskap," het die verklaring gelui.

Diana in Zimbabwe.
Diana in Julie 1993 by die Nemazura-voedingsentrum, 'n Rooi Kruis-projek vir vlugtelinge in Zimbabwe. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

"Ons wens nog elke dag dat sy hier by ons was en ons hoop is dat hierdie standbeeld vir ewig beskou sal word as 'n simbool van haar lewe en nalatenskap," het hulle verder laat hoor.

Die gesonke tuin by Kensingtonpaleis was 'n plek van vertroosting vir Diana voor haar dood in 1997. Met die standbeeld se onthulling is 4 000 van Diana se gunstelingblomme in die tuin geplant.

Ian Rank-Broadley het die standbeeld ontwerp. Van sy portrette van die Britse monarg koningin Elizabeth (95) pryk op alle Britse muntstukke.

Kensingtonpaleis het met die standbeeld se onthulling verduidelik Diana se klere wat sy in die standbeeld dra - sy pryk in 'n knoopbloes en romp - is geïnspireer deur die laaste tydperk van haar lewe toe sy humanitêre werk gedoen het en haar karakter en deernis wou oordra.

Die beeld van Diana staan met haar hande onderskeidelik op die skouers van 'n seun en 'n meisie om universaliteit en die generasie-impak van haar werk te simboliseer.

Diana standbeeld.
Prins William, hertog van Cambridge (links), en Prins Harry, hertog van Sussex, onthul 'n standbeeld wat hulle opgedra het aan hul ma Diana, prinses van Wallis, in die gesonke tuin in die Kensingtonpaleis, op wat haar 60ste verjaarsdag sou gewees het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

William is glo hartseer omdat hy vanjaar nie die herdenking van sy ma se dood soos oudergewoonte saam met sy broer, Harry, kan deurbring nie.

Die koninklike kenner Richard Fitzwilliams reken dat dit hierdie keer om verskeie redes nie die geval sal wees nie. Die broers sal moontlik privaat kommunikeer, meen hy.

William gaan die dag saam met sy vrou, Kate (39), en hul kroos, prins George (8), prinses Charlotte (6) en prins Louis (3), deurbring.

Die hertog en hertogin van Cambridge verdeel tans hul tyd tussen Kensingtonpaleis in Londen, waar hul kantore is, en Anmer Hall, hul huis in Norfolk op die Engelse platteland.

Die egpaar "oorweeg dit ernstig" om Windsor toe te verhuis om naby William se ouma, koningin Elizabeth, te wees noudat hulle 'n groter rol in die Britse koninklike familie gaan speel, berig The Mail on Sunday.

William en Kate kyk glo na verblyf in die gebied wat gepas is om hul kroos groot te maak, verklap 'n bron. As hulle trek sal hulle ook nader aan Kate se ouers, Michael en Carole Middleton, wees, wat 64 km verder in Bucklebury, Berkshire, woon. Kate se jonger suster, Pippa (37), haar man, James Matthews, en hul twee kinders, Arthur (2) en Grace (vyf maande), het ook 'n tuiste op die dorpie.

Die koningin het altyd Windsor as haar naweek-blyplek gebruik en haar werkweek in Buckinghampaleis in Londen deurgebring. Maar sy beplan om nou permanent in Windsor te bly wanneer sy van haar jaarlikse somervakansie in Balmoral in Skotland terugkeer.

Die monarg en haar man, wyle prins Philip, het die inperking in Windsor deurgebring. Dis ook daar waar hy in April vanjaar op 99 sy laaste asem uitgeblaas het.

Die koningin sal beslis daarby baat vind as William en Kate naby haar woon in Windsor, berig Daily Mail. Die monarg het 'n hegte band met William. Tydens sy dae op Eton-kollege, wat naby die kasteel is, het hy dikwels Sondae middagete saam met sy grootouers geniet in die kasteel se Oak Room.

Bronne: HellomagazineTatler.comcosmopolitan.comExpress.co.ukDailymail.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees