Shudufhadzo is as kind erg afgeknou en geboelie toe sy van Ha-Masia in Limpopo na Secunda in Mpumalanga verhuis het en ’n nuwe skool moes bywoon.
Haar eerste kinderboek, Shudu Finds Her Magic, is geïnspireer deur dié moeilike tyd. Die boek, wat in ses tale beskikbaar is, is gemik op kinders tussen die ouderdom van vier en 12.
Shudu sê sy knyp haarself steeds wanneer sy haar boek in boekwinkels gewaar.
“Dit is so opwindend om te sien dat iets waaroor ek so passievol is en lank oor gedroom het ’n werklikheid geword het. Ek het my hart en siel daarin gestort,” vertel sy trots. Sy hoop jong mense wat met hul geestesgesondheid sukkel sal wanneer hulle dit lees besef hulle is nie alleen nie.
“Die een les wat ek wil oordra, is dat wanneer iets erg met jou gebeur, dit belangrik is om daaroor te praat met ’n volwassene wat jy vertrou. Niemand hoef dit te ervaar wat ek deurgemaak het nie.”