6 opspraakwekkende gebeure uit die koningin se laaste 3 dekades op die troon

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
In haar bykans sewe dekades op die troon het die Britse monarg vele hoogte- en laagtepunte beleef.
Koningin Elizabeth
'n Jong koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koningin Elizabeth het op 6 Februarie 1952 ná die ontydige dood van haar pa, koning George VI, die troon bestyg. Sy hou die wêreldrekord vir die langs heersende monarg en was ten tyde van haar dood 70 jaar op die Britse troon. 

Wyle Koningin Elizabeth (95) en haar man, prins Philip (99), was in Februarie 1952 in Kenia toe hulle die skoknuus van haar pa, koning George VI, se afsterwe ontvang het.

In haar byna sewe dekades as die Britse monarg het die ma van vier keer op keer haar veerkragtigheid gewys ten spyte van al die hoogte- en laagtepunte waardeur sy en die koninklike familie deur die jare in die gesig gestaar is.

koningin elizabeth
Koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hier is sewe skokgebeure wat in onlangse jare voor die wêreld se oë afgespeel het. 

1997: Prinses Diana se tragiese dood 

Koningin Elizabeth en Diana
Die koningin en prinses Diana. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy was ’n besonderse begaafde mens.” Dié woorde van koningin Elizabeth het in die ore van die wêreld gelui ná haar gewese skoondogter, prinses Diana, se dood op 31 Augustus 1997 op die ouderdom van 36. Die prinses, haar kêrel, die miljardêr Emad ‘Dodi’ Fayed, en die bestuurder van die motor, Henri Paul, het ná ’n tragiese motorongeluk in die Franse hoofstad, Parys, gesterf.

Dodi en Henri is op die toneel dood verklaar, maar die prinses is in die vroeë oggendure in die hospitaal weens interne bloeding oorlede. 

Die Buckinghampaleis het in dié tyd onder kritiek deurgeloop omdat die koningin eers vyf dae ná Diana se dood die land toegespreek het. 

“In die goeie en slegte tye het sy nie haar vermoë verloor om te lag en glimlag nie. En ook nie om ander met haar warmte en goedhartigheid te inspireer nie. Ek het haar gerespekteer vir haar energie en toewyding aan ander, maar veral haar toewyding aan haar twee seuns,” het die koningin tydens daardie ikoniese toespraak gesê oor Diana, die ma van haar kleinseuns, prins Harry en prins William.

Engeland se geliefde prinses is op 6 September 1997 te ruste gelê. 

2002: Die koningin-moeder en prinses Margaret sterf weke uitmekaar

'n Jong koningin Elizabeth
Die koningin, haar ma, koningin Elizabeth en haar suster, prinses Margaret. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die jaar 2002 is die koningin deur groot hartseer getref. Op 9 Februarie 2002 - net drie dae nadat die koningin haar 50ste jaar op die Britse troon gevier het - moes sy haar geliefde jonger suster, prinses Margaret, groet.

Margaret is op die ouderdom van 71 weens ’n beroerte oorlede. Die koningin en haar suster het ’n hegte band gedeel en het mekaar deur dik en dun bygestaan. 

Op 30 Maart 2002, net weke nadat koningin Elizabeth die dood van haar geliefde suster moes verwerk, is haar ma en naamgenoot, die koninginmoeder Elizabeth, oorlede. Sy was 101 jaar oud toe sy by die Windsorpaleis in haar slaap oorlede is. 

2005: Prins Charles trou met sy ‘ware liefde’ 

Koningin Elizabeth,prins Charles en Camilla
Die koningin by haar seun, prins Charles en sy vrou Camilla. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná sy egskeiding van prinses Diana in 1996 was hy so te sê ’n volksvyand – die oënskynlik hartelose man wat haar lewe hel gemaak het terwyl hy agter haar rug by sy ware liefde aangelê het. 

Camilla was jare lank die mees gehate vrou in Engeland – die een wat die skuld gekry het vir Charles en Diana se mislukte huwelik.

Met haar en Charles se stil trouseremonie in 2005 het publisiteitskenners gewaarsku die Britse publiek se harte sal nooit teenoor haar sag word nie. Die paartjie het toe reeds die goedkeuring van die koningin en Charles se seuns, William en Harry, gehad – maar die publiek het steeds nie van Camilla gehou nie.

Mettertyd het hul harte wel vermurwe.

2011: Prins William en Kate haak af

Prins William en Kate op hul troudag.
Prins William en Kate op hul troudag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins William en Kate het een van die bekendste paartjies ter wêreld geword toe hulle afhaak, en groot opwinding het geheers in afwagting tot hul groot dag. Op 29 April 2011 het Catherine in haar asemrowende Alexander McQueen-trourok haar prins in sy militêre uniform by die altaar ontmoet.

Die wêreld het in verwondering na dié sprokiestroue reg oor die wêreld gekyk. Twee jaar later, in Julie 2013, het dié universiteitsliefdes hul eersteling, prins George, verwelkom.

“Dis baie emosioneel. Dis so ’n spesiale tyd. Ek dink enige ouer sal weet hoe dit voel,” het sy destyds gesê. In Mei 2015 het George ’n kleinsus, prinses Charlotte, gekry en in April 2018 het hul jonger broer, Louis, sy opwagting gemaak. 

Tien jaar later is die vonk tussen dié twee duidelik nog vuurwarm. 

Koningin Elizabeth,prins Philip, Kate en William
Koningin Elizabeth, prins Philip, Kate Middleton en prins William. Foto: Gallo Images/Getty Images

2018: Prins Harry en Meghan se troue van die jaar

Prins Harry en Meghan op hul troudag.
Prins Harry en Meghan op hul troudag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins Harry en die voormalige Suits-aktrise Meghan Markle se verhouding het van die begin af die tonge laat klap. Die prins en sy Amerikaans gebore vrou, Meghan, het op 19 Mei 2018 in ’n prentjiemooi seremonie in die St. George-kapel in Windsor, Engeland, getrou. 

'n Jaar later het hulle hul eersteling, Archie Harrison Mountbatten-Windsor, verwelkom. 

2019: Prins Andrew word by die Jeffrey Epstein-skandaal betrek

Koningin Elizabeth,prins Andrew
Die Britse monarg by haar seun, prins Andrew. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis veilig om te sê 2019 was nie een van koningin Elizabeth se gunstelingjare nie. Haar seun prins Andrew het wêreldwyd die nuusopskrifte gehaal toe die veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein homself in sy tronksel in New York opgehang het nadat skokkende nuwe bewerings oor sy seksuele misbruik van minderjarige meisies bekendgemaak is. 

Andrew was vroeër bevriend met Epstein, en al probeer hy nou sy rug op hul gesamentlike verlede keer, is daar verskeie foto’s wat hul verbintenis bewys. 

Ná ’n rampspoedige TV-onderhoud met BBC het die koningin Andrew van sy koninklike pligte onthef. 

2020: Megxit

Koningin Elizabeth,prins Harry, Meghan Markle
Koningin Elizabeth saam met prins Harry en Meghan Markle. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die grootste skok het in Januarie 2020 gekom toe prins Harry en sy vrou, Meghan, aankondig – en dit nogal op Instagram – dat hulle “uittree” as senior lede van die Britse koninklike familie.

In die dae nadat die nuus bekend geword het, het Harry se ouma, koningin Elizabeth, ’n noodvergadering by haar landgoed Sandringham gehou met Harry, William en hul pa, Charles. 

koningin elizabeth
2020 was 'n besonderse moeilike jaar vir die koningin. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Paar dae later het die Buckinghampaleis aangekondig dat Meghan en Harry van 31 Maart 2020 nie meer senior werkende lede van die koninklike familie sal wees nie.

Bronne: TheOprahMagazine.com, Hello!, Hello!, Express.co.uk, Guinness World Records, The Sun, Express UK, USAToday.com 

Teken hier vir ons nuusbriewe in:
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

6 Oktober 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in