Hulle deel al meer as drie dekades gereeld ’n verhoog en is kort-kort saam voor die televisie- of rolprentkameras. G’n wonder dat dit al byna ’n gewoonte geraak het om saam woorde te leer, te repeteer of ’n teks en hul karakters te bespreek nie.
En wanneer ’n projek afgehandel is, kan hulle ure lank gesels oor die draaiboek se dieper betekenis, nuwe talent of sommer net die dinge wat op die stel gebeur het.
Vir die veteraan-akteurspaar Johan (80) en Lida (85) Botha kon dit nie anders dat hul loopbane en huwelik oor ’n leeftyd saam verweef geraak het nie – hulle is immers al 50 jaar getroud en werk al ’n leeftyd saam in dieselfde bedryf.