Vandag sal so iets ondenkbaar en onaanvaarbaar wees. ’n Aktrise wat op 11 jaar oud die rol vertolk van ’n kindersekswerker en op 14 een waar sy kaal op ’n tropiese eiland rondhardloop.
Toe sy 15 was, het Brooke Shields boonop uitlokkend in ’n jeans-advertensie verskyn en daardie bekende woorde gesê: “You wanna know what comes between me and my Calvins? Nothing.”
Die wêreld was destyds ’n ander plek en daar was minder bewustheid oor die gevare daarvan om kinders te seksualiseer – en Brooke is uitgebeeld op maniere wat vandag as skokkende uitbuiting beskou sal word.Nou is daardie destydse kinderster 57 jaar oud en ondersoek ’n nuwe dokumentêre rolprent haar tyd in die kollig.