Om in die hartjie van Namakwaland aan Desert Rose te verfilm en weer die Noord-Kaap se ongerepte skoonheid te beleef was vir Amalia Uys ’n spesiale lekkerte. Kindertyd het die boorling van Springbok en haar gesin altyd somervakansies by McDougallsbaai, ’n klein plekkie aan die kus in dié provinsie, deurgebring.
“Ek het altyd in daai wêreld gery en gedink hoe cool dit sal wees om iets daar te kan skiet, want die wêreld leen hom so uit vir ’n goeie storie,” sê sy.
Wat Desert Rose juis vir haar besonders maak, vertel sy, is die manier waarop die plek waar dit afspeel ook ’n karakter word. En daar, met die verlatenheid van die Noord-Kaapse vlaktes om haar, kon sy ondanks die reeks se intense intrige en ’n rowwe program gereeld gaan stap en draf op bergpaaie – en weer stil raak en opnuut waardering kry vir die dinge en mense in die lewe wat saak maak.