Ashley Judd in waaksaal in SA ná gru-val wat haar ‘soos dier laat skreeu het’

akkreditasie
Ashley Judd.
Foto: Gallo Images/Getty Images
Ashley Judd. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Amerikaanse aktrise Ashley Judd herstel nou in ’n Suid-Afrikaanse hospitaal ná ’n grusame val in ’n woud in die Kongo.

Dit het ’n “ongelooflik angswekkende 55 uur” geneem om haar uit die woud tot op ’n operasietafel in Suid-Afrika te kry. 

Terwyl die 52-jarige ster nie bekendgemaak het in watter mediese sentrum sy behandel word nie, is sy net vol lof vir die “wêreldklas”-sorg wat sy ontvang. 

Sy moes met ’n noodvlug na Suid-Afrika gebring word nadat sy haar been op vier plekke gebreek het terwyl sy op ’n ekspedisie was om bonobos, ’n spesie bedreigde sjimpansees, te soek.

“Ek is in ’n intensiewesorg-traumaeenheid in pragtige Suid-Afrika, wat my ingeneem het van die Kongo af, ’n land wat ek innig liefhet, maar ongelukkig nie toegerus is om ontsettend katastrofiese beserings te hanteer soos wat ek gehad het nie,” het die Double Jeopardy-ster in ’n Instagram Live-video aan The New York Times gesê. 

“Ongelukke gebeur, en daar was ’n omgevalle boom op die pad wat ek nie gesien het nie – en ek het baie sterk gestap – en ek het net daaroor geval. Terwyl my been gebreek het, het ek geweet dit breek.” 

Sy vertel sy was vyf uur lank op die grond vasgekeer met ’n “erg misvormde been” terwyl sy aan ’n stok gebyt het weens die pyn en “soos ’n wilde dier geskreeu het”. 

Sy is later op ’n motorfiets na ’n plaaslike traumaeenheid gebring terwyl sy die bodeel van haar gebreekte skeenbeen bymekaar gehou het. “Ons het dit ses uur lank gedoen. Ek was op die uiterste randjie van my uithouvermoë.”

Die ster, ’n jarelange diere- en politieke aktivis, bring ’n groot deel van elke jaar in Afrika deur om bewustheid oor dierebeskerming te bevorder en ander kwessies, soos armoede, in die kollig te plaas. Sy erken sy besef maar alte goed hoe gelukkig en bevoorreg sy is. 

“Die meeste mense wat ek ken, sou nie toegang gehad het nie. Die verskil tussen ’n Kongolese mens en my is rampversekering wat my in staat gestel het om op ’n operasietafel in Suid-Afrika te kom.” 

Nadat Ashley in onlangse jare hoofsaaklik by televisiewerk gehou het, sal sy in die komende biografiese fliek Anita na die silwerdoek terugkeer. 

Die rolprent, wat nog in die voorproduksiefase is, vertel die verhaal van die gewese Amerikaanse skoonheidskoningin en sangeres Anita Bryant.

Sy het in die 1970’s bekend geword vir haar beywering om wette te laat herroep wat op grond van seksuele oriëntasie diskrimineer en onbedoeld die beweging vir gay regte laat ontstaan. Neil Patrick Harris van How I Met Your Mother-faam is haar medester.

Bronne: edition.cnn.com, etonline.com, imdb
Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees