Ashley Judd ‘oorweldig deur trauma’ terwyl sy van Kongo-val herstel

akkreditasie
Sowat ’n maand nadat haar been in ’n woud in die Demokratiese Republiek van die Kongo vergruis is, het Ashley Judd nog ’n lang pad na herstel.

Die aktrise (52) sê sy probeer sin maak van die gebeure wat tot die “katastrofiese” voorval gelei het. 

“Ek is nog aan die begin van die herstelpad, en die kombinasie van oorweldig word deur trauma en om aandag aan my liggaam te gee, is baie om te hanteer.”

Die aktrise het haar been op vier plekke gebreek en senuskade opgedoen toe sy voor dagbreek in die donker oor ’n omgevalde boom gestruikel het.

Die ster het gereeld die land in Sentraal-Afrika besoek om bonobos, ’n bedreigde sjimpansee-spesie, te bestudeer en aan vroueregteprojekte te werk. 

Sy is ná ’n reis van 55 uur per noodvlug na die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg geneem waar dokters haar been kon red. Toe sy eindelik by die hospitaal opdaag, het haar toestand onseker gelyk want medici kon nie ’n polsslag in haar been vind nie.

Ashley, wat terug is in Amerika, het ’n lang pad na herstel wat voorlê, maar is vasbeslote om optimisties te bly. 

“Ek verstaan nie hoekom dit moes gebeur het nie,” het sy aan haar 497 000 aanhangers op Instagram gesê. “Ek weet wel ek was met liefde behandel en het baie hulp ontvang. Ek verkeer veral saans in ondraaglike pyn.” 

Sy het die span dokters wat haar sorg oorgeneem het by ’n kliniek in Columbus, Georgia, bedank “vir sewe ure van intensiewe, briljante, geïnspireerde chirugiese werk aan my bene en senuwees”. 

“Dit het stamina, fokus en nederigheid geverg om kenners landwyd te raadpleeg, en hulle wil ek hartlik bedank. Ek is nou in die sorg van vriende en familie, te veel om te noem, wat my ná hierdie hewige val in hul arms gevang het. Hulle doen vir my wat ek nie vir myself kan doen nie.”

Een van die mense op wie Ashley staatmaak vir daaglikse aktiwiteite is haar ouer suster, die countrysangeres Wynonna Judd.

Wynonna (56) het aan Page Six gesê sy moes gaan navors “hoe om iemand wat in die bed lê se hare te was” nadat haar suster vir haar in ’n teksboodskap gevra het: “Kan jy my hare was?”

“Dis die taak van ’n ousus,” het sy gesê. 

Wynonna het bygevoeg haar suster se herstel is ’n wonderwerk en vertel sy het gehuil toe sy haar die eerste keer in die hospitaal sien. 

Sy het gesê wat Ashley deurgemaak het, is niks minder as afgryslik nie.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, PAGESIX.COM, PEOPLE.COM, TODAY.COM, ETONLINE.COM
Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees