'Binnelanders' se Annalize kies eindelik haar kêrel!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Uiteindelik, het baie aanhangers van die sepie 'Binnelanders' seker geprewel nadat dr. Tertius Jonker die moed bymekaar geskraap het om vir dr. Annalize Roux te sê hoe hy voel.

En . . . sy voel dieselfde!

cindy
Dr. Annalize Roux het haar keuse gemaak! Foto: Verskaf

Die aktrise Cindy Swanepoel het Woensdag saam met Huisgenoot oor hierdie (lang verwagte!) toneel gesels – iets waarvoor baie aanhangers al na uitgesien het. 

Hierdie tonele was nie té moeilik om te skiet nie, bieg Cindy: Annalize en Tertius het immers al ’n verhouding gehad. 

“Dit is nie ’n nuwe akteur vir wie ek moet leer ken nie. Ek en Reynardt (Hugo) ken mekaar se energie en manier van speel. In tonele kan ons baie lekker gee en neem van mekaar.” 

cindy
Annalize het baie keuses gehad, maar sy het Tertius gekies. Foto: Verskaf

Cindy sê romantiese tonele is veral vreemd in hierdie covid-19-tye. 

“Ons mag nie meer intieme tonele skiet nie. So, dit maak dit vreemder, want jy moet nou alles half suggestief doen. Asof julle gaan soen. En dit was vir ons baie, baie snaaks. Ons het baie gelag.” 

Sy sê hierdie suggestiewe tonele kan dit dalk bietjie meer ongemaklik maak as om mekaar net te soen, omdat hulle meer met mekaar moes flankeer juis omdat hulle nie meer ’n vinnige vry kan doen nie.

“Dis asof ons dit moet stel aan die gehoor dat ons intiem gaan verkeer. Jy sou dink om mekaar te soen is ongemaklik, maar hierdie tonele is dalk meer ongemaklik.”

cindy
Tertius maak sy hart oop! Foto: Verskaf

Maar Cindy en Reynardt werk al lank saam en hulle is tog gemaklik met mekaar.

En Cindy moes omtrent ’n hele paar tonele met verskeie mans skiet . . .

“Vir Annalize was dit great. Ek dink nie sy het agtergekom dat sy so baie mans op een slag date nie. Sy vind haarself en sy begin besef wat sy regtig wil hê.”

Cindy sê dis ook oukei, want soos jy ouer raak, dink jy tog aan wat jy wil hê en wat jy nie wil hê nie. 

Maar hoe het sy dit ervaar om saam met al hierdie mans op die kassie te verskyn?

Dit was vir haar fantasties, want hierdie mans was almal baie professioneel en baie voorbereid. Cindy het tonele saam met Reynardt, Izak Davel, Erik Holm en Ivan Botha geskiet.  

“Hulle bring ’n ander energie en dinamika. En ek is mal daaroor om te lag en hulle is snaaks.”

Cindy sê sy het baie goed saam met almal oor die weg gekom en hulle kon later grappies met mekaar deel.

“Ek, as Cindy, is baie lucky en ek dink Annalize is ook baie lucky om so baie hubare jong mans te kon hê,” sê sy. 

Maar wie was haar gunsteling om tonele mee te skiet? 

“Dit is ’n moeilike vraag, want hulle het almal hul eie energie gebring.”

En hoewel dit ’n moeilike vraag is, verklap Cindy wel watter van die akteurs sy die meeste geniet: Erik Holm.

“Daar is net iets oor sy professionaliteit. En die manier hoe hy oor die teks dink en tonele wil bespreek. Hy dink ook aan die subteks en dink oor waarheen die toneel gaan. Hy laat my baie meer dink oor die toneel.”

Staan opsy Erik, want Cindy hou ook eintlik baie daarvan om teenoor Reynardt te speel!

Want dié twee kan ongelooflik baie vir mekaar lag, maar ook vinnig baie ernstig oor hul toneel en karakters raak. 

En die grootste vraag van almal: Noudat Annalize vir Tertius gekies het, wie sou Cindy graag vir Annalize wou kies?

“Ek is bietjie in twee geskeur . . . Tertius, want hulle het hierdie geskiedenis en hulle is lief vir mekaar. Hulle is mekaar se beste maatjies. En dis wat mens moet wees vir mekaar.”

Maar . . . 

“Aan die ander kant weet ek hoe lief sy is vir Rian. Maar dit is ook nou net ’n mystery of hulle by mekaar sal kom of nie. Ek weet nie. Ek weet nie wie ek sou kies nie. Dit is beslis tussen Rian en Tertius vir my . . .”

Teken in op ons nuusbriewe:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees