Om die trane op bestelling vir die kameras te laat rol is glad nie so maklik nie. Veral as jy van nature lagplooie om jou mond en ’n ondeunde vonkel in daardie aantreklike groen oë het.
Maar as dit is wat ’n dramatiese toneel van jou ernstige karakter verg, dan is dit wat jy moet doen, vertel Bobby van Jaarsveld – en begin op die daad demonstreer presies hoe. Woeps, weg is die glimlag, hy trek sy oë op skrefies en sy gesig word strak. Sy lippe begin bewe, en jy wil jou verbeel jy sien die eerste traan . . . maar dan bars hy uit van die lag.
“Ek kan nie!” maak Bobby (35) verskoning. “Ek lag net heeltemal te veel vandag, ek gaan nooit die trane kry om te rol nie.”