Nie eens die hitte wat vandag aan elke mens en dier in die Koue Bokkeveld kleef, kan die opwinding wat deur die klipkerkie bruis demp nie. Die trougaste weet almal hulle is die getuies van ’n ware sprokieseinde.
Voor in die kerk op Kaleo, ’n skilderagtige vrugteplaas buite die dorpie Prince Alfred Hamlet, wag die aantreklike bruidegom – netjies uitgevat in ’n vlootblou pak met gedroogde wit blomme op sy lapel – saam met sy vier strooijonkers soos lyfwagte aan sy sy. Op die oog af lyk hy ontspanne, met net ’n diep asemteug nou en dan wat enige senuwees verklap.
Toe die kerk se houtdeure oopswaai, maak Boer Niel Bruwer (34) homself gereed – sy bruid is op pad.