Britney word 40: Nog vieringe vir die prinses van pop

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Britney Spears vier vandag haar 40ste verjaardag.

En die prinses van pop kan dié dag met vreugde vier nadat die kuratorskap wat 13 jaar lank haar lewe oorheers het, eindelik vroeër vanjaar beëindig is. 

Britney se verloofde, Sam Asghari (27), het Woensdag hulde gebring aan sy verloofde. 

“Ek noem jou my leeuwyfie, want ek bewonder jou genadelose krag. Jou mooi hart inspireer my. Ek vier jou glimlag wat my wêreld verlig. 

Elke dag is jou verjaardag, my koningin. Gelukkige eerste verjaardag aan my vrou,” het die Irannese fiksheidsinstrukteur op Instagram geskryf.

Sam se verwysing na Britney as sy “vrou”, het aanhangers omtrent laat gons oor of die tweetjies intussen al afgehaak het.

Hulle het hul verlowing in September vanjaar aangekondig. 

Britney het dieselfde foto’s as Sam gedeel, maar steeds na hom as haar verloofde verwys. 

“O die kosbare vreugde vandag. Ek en my verloofde is so opgewonde om weg te gaan,” het die sangeres geskryf. 

Ter viering van Britney se spesiale dag kyk Huisgenoot na vier groot tydperke in haar lewe.

Haar beginjare 

Britney het bekendheid verwerf as lid van Disney se Mickey Mouse Club-televisiereeks. 

Haar eerste album, . . . Baby One More Time, is in 1999 uitgereik. 

Daarna het Britney se sterstatus die hoogte ingeskiet. Sy het treffers soos “Oops!...I Did it Again” en “Toxic” uitgereik en in ’n fliek getiteld Crossroads verskyn. 

Persoonlike dramas

In 2004 is Britney in ’n kapel in Las Vegas met Jason Alexander, ’n vriend uit haar kinderdae, getroud. Die huwelik is drie dae later nietig verklaar. Net nege maande later is Britney met die danser Kevin Federline getroud. 

Britney en Kevin het twee seuns, Sean Preston (16) en Jayden James (15), gehad voor hulle in 2007 geskei is. 

Later in 2007 het Britney ’n baie openbare ineenstorting gehad. Sy het haarself ook twee keer by ’n rehabilitasiesentrum laat opneem. Sy het daarna toesig verloor oor haar seuns. 

Nadat Britney in 2008 weer in ’n rehabilitasiesentrum beland het, is haar pa, Jamie, aangestel as kurator van haar persoonlike en sakebelange. 

Haar terugkeer na die kollig

In 2009 het Britney haar sesde album, Circus, uitgereik. Sy het ook op ’n wêreldtoer gegaan om dit te bemark. 

Sy het ook vier jaar lank in Las Vegas opgetree. In 2018 het sy weer op toer gegaan en dit afgesluit met haar laaste optrede tot dusver by die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas. Sy het in 2019 aangekondig dat sy ’n onbepaalde breek vat van optredes. 

Vryheid

Sedert Augustus 2020 het Britney se prokureurs hard geveg om die kuratorskap waaronder sy vir langer as ’n dekade geleef het, ter syde gestel te kry. 

Die popster het in Junie vanjaar die hof self toegespreek oor haar wense om self keuses oor haar lewe en geldsake te kan maak. 

Die versoek is eindelik op 12 November toegestaan en die kuratorskap beëindig. 

Britney het die vryheid gevier deur ’n reeks Instagram-video's te deel waar sy dans. 

Bronne: Reuters, E!Online, People, CNN 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees