Celine Dion onttrek weens gesondheidsprobleme uit konsertreeks in Las Vegas

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Celine Dion was verplig om haar komende konsertreeks van drie maande in Las Vegas weens ’n onvoorsiene mediese toestand af te stel.

Die 53-jarige sangeres se eerste vertoning in die reeks sou op 5 November wees, maar in ’n boodskap op Instagram verduidelik haar span wat agter die skielike uitstel steek.    

“Celine ervaar ernstige en aanhoudende spierspasmas wat verhoed dat sy optree. Haar mediese span gaan voort om haar te evalueer en te behandel. Maar die simptome verhoed haar om aan die repetisies vir die vertoning deel te neem.”

Die sangeres van die treffer “All By Myself” is hartgebroke oor die nuus. Sy sê sy het die afgelope agt maande aan haar nuwe vertoning gewerk. 

“Dit maak my onbeskryflik hartseer dat ek nie die konsertreeks hierdie November kan open nie," het sy laat hoor. Sy vra ook verskoning aan “aanhangers wat planne gemaak het om na Las Vegas te kom” en sluit af sy moet nou “daarop fokus om beter te word”. 

Celine spog met die Las Vegas-konsertreekse wat die meeste geld laat inrol het. Saam het haar twee konsertreekse, van 2003-2007 en toe van 2011-2019, byna R10 miljard laat inrol. Dit is meer as dié van Elton John, Lady Gaga en Britney Spears. Nadat sy in 2019 uitgetree het, is die Queen of Vegas, soos sy bekendstaan, oorreed om weer by die nuwe, gevorderde Resorts World op te tree.

Haar huidige konsertreeks duur tot vroeg in Februarie. Daarna sal sy haar Courage-wêreldtoer in Maart hervat.

Haar wêreldtoer is verlede jaar deur inperkings onderbreek, maar sy sou in Maart na die verhoog terugkeer vir ’n rits vertonings in Amerika en haar geboorteland, Kanada. Sy sou dan na Europa reis vir die oorblywende deel van die toer tot in September. 

In ’n onderhoud vroeër vanjaar het Celine openhartig gepraat oor weer liefde vind nadat haar man van 21 jaar, René Angelil, in 2016 aan keelkanker dood is. “Ek weet nie, ek het geen idee nie,” het sy aan Today gesê toe sy oor uitgaan gevra is.

“Maar op hierdie oomblik is liefde so groot in my lewe, met my kinders, met die lewe self. Ek dink nie oor ’n verhouding en weer verlief raak nie. Moet ek sê dit sal nooit weer gebeur nie? Ek weet nie. Ek weet nie.” Verlede jaar het sy erken sy mis dit “om aangeraak en omhels te word en te hoor ek is mooi”. 

“Ek wil nie uitgaan nie, maar ek mis wat ’n kêrel en ’n man sou doen.” Sy sê die verlies van hul pa was “baie erg” vir hul drie seuns, René-Charles (20), wat ook ’n sanger is, en die 10-jarige tweeling, Nelson en Eddy.

“Ek voel René het my deur die jare en vandag nog soveel gegee,” sê sy.

“Ek sien my kinders. Ek kyk na hulle – ons leef saam met hom. Ons leef steeds saam met hom. Hy is elke dag deel van ons lewe. Ek moet sê ek voel baie, baie sterk.”

In Januarie het sy die vyfde herdenking van sy dood met ’n innige boodskap op Instagram gedeel.

“René, dit is al vyf jaar . . . Daar gaan nie ’n dag verby dat ons nie aan jou dink nie,” het sy toe geskryf. “Ons reik nou meer as ooit na jou uit om ons te lei, te beskerm en steeds oor ons te waak.”

Bronne: Instagram, dailymail.co.uk, billboard.com

Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees