Dit was ’n toneel waarop haar ryk en aanhangers lank gewag het: die prentjie van Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene wat omring deur haar gesin in die openbaar gesig wys. En toe sy eindelik weer haar verskyning maak, het die prinses gesonder gelyk as in maande.
Die 44-jarige koninklike is vergesel deur haar man, prins Albert (65), en hul sewejarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, wat in die wolke gelyk het om weer saam met hul ma op ’n uitstappie te gaan.
Die geleentheid was die Monaco E-Prix, waar elektroniese motors meeding in ’n voorloper vir die Monaco Grand Prix later vandeesmaand. Dit was die eerste keer dat die koninklike gesin saam in die openbaar gesien is sedert Charlene in Maart vanjaar na die prinsdom teruggekeer het.