Sy huil haarself nog soms aan die slaap. Ook wanneer sy haar tweejarige tweeling langs haar in die bed neerlê om die eensaamheid te verdryf.
’n Mens kan dit skaars glo as jy kyk na die pragfoto’s op Claudia Henkel (36) se Instagramblad, want dié voormalige Mej. Suid-Afrika lyk dan soos die toonbeeld van elegansie en selfbeheersing.
Maar die einde van haar huwelik het haar broos gelaat, vertel die beeldskone blondine. “Dis eensaam,” sê sy. En dit is so anders as die lewe waarvan sy gedroom het.
“My ouers is al 41 jaar getroud en ek wou – wil – dit vir my kinders hê, maar hulle verdien ook ’n ma en pa wat gelukkig saam is.”
Haar huwelik met die sakeman Orin Roesstorff het in Februarie vanjaar verbrokkel, maar Claudia praat nou vir die eerste keer openlik daaroor. Vroeër was sy nog net te hartseer, sê sy.