Dis die plek waarheen sy weggebreek het vir vrede wanneer haar lewe te erg geraak het. Die lushof van die Sunken Garden by die Kensingtonpaleis was vir prinses Diana ’n stukkie sielerus te midde van ’n lewe wat andersins deur droefheid en pyn gekenmerk is.
Veral in die laaste jare van haar stormagtige huwelik met prins Charles het sy haar hier tussen die blomme en imposante bome kom afsonder. En nou word sy permanent deel van dié tuin.
Selfs al kan sy in die vlees nooit weer hier wees nie, is daar onlangs in die Sunken Garden ’n monument opgerig vir dié toegewyde ma, mode-ikoon en bowenal humanitêre baanbreker.