Ja, ons ken Diaan Lawrenson as aktrise en as uiteenlopende karakters op die skerm: die borrelende Paula van der Lecq in 7de Laan, die slinkse Joey Steyn in Spoorloos: Steynhof, en meer onlangs as Anet Ludik in die Afrikaanse Netflix-drama Ludik.
Maar Diaan is ook ’n sakevrou, ’n mentor vir ’n nuwe generasie, en die afgelope vier jaar reeds dekaan by die Kaapse kampus van die Afda-filmskool, waar studente leer van vervaardiging, toneelspel, en kreatiewe skryfkuns.
In 2021 het Diaan, ’n bekende gesig op ons kassie, agter die skerms begin om haarself in ’n akademiese swaargewig te omskep toe sy vir haar meestersgraad ingeskryf het. En onlangs – ’n week voor Huisgenoot by haar ingeloer het – het sy die proefskrif ingehandig wat sy vertrou dié graad aan haar sal toeken.