Die voormalige Binnelanders-ster en sanger het onlangs sy jarelange meisie op Kogelbaai se strand gevra om sy vrou te word.
Ramey wou Loricia aanvanklik oor Desember in Mauritius vra om te trou, maar die reisverbod het sy planne in die wiele gery en hy moes aan ander idees dink.
“Ons het al lank oor verloof raak gepraat, maar ek het alles probeer doen sodat sy nie enigiets vermoed nie,” vertel Ramey.
Hy het dit toe nog reggekry om sy meisie van die afgelope sewe jaar se voete onder haar uit te slaan.
“Ek was so geskok en opgewonde toe ek omdraai en hy is op sy knie en ek besef wat besig is om te gebeur. Ek het ’n paar keer op en af gespring van blydskap! Dit voel of ek op ’n wolkie sweef,” sê Loricia.