OP DIE oog af kan die jong sangeres se lewe beswaarlik beter wees. Waar sy in haar grimeerstoel sit en gesels, lag sy gereeld en daar is ’n vonkel in haar oog.
Dis ook geen wonder nie. As die wenner van die talentsoekprogram Die kontrak het Samantha Leonard pas ’n platekontrak van R1 miljoen by Coleske Artists losgeslaan. Haar nuwe enkelsnit, “Net een keer”, boer op die trefferlyste, en sy het onlangs die verhoog van Afrikaans is Groot aan die brand gesing. Om te sê haar toekoms lyk blink is geen oordrywing nie.