Deel

Die ‘Queue’ is terug: Honderde ruk op na Windsor om die koningin se grafsteen te besoek

akkreditasie
Nadat die lang tou van mense wat koningin Elizabeth in staatsie wou sien lê, roem van sy eie bereik het, word daar nou weer op sosiale media gegons oor die lang tou van mense wat Windsorkasteel besoek om haar finale rusplek te sien.

Ná afloop van die koningin se staatsbegrafnis op 18 September is sy en haar ontslape man, prins Philip, later daardie aand tydens ’n privaat seremonie by Windsorkasteel begrawe. Die hertog van Edinburgh is in April verlede jaar op 99 oorlede, en sy kis is in die koninklike grafkelder by die St. George’s-kapel in Windsor gehou.  

Die Britse monarg en Philip se kiste is by die King George VI Memorial Chapel begrawe, saam met haar ouers, koning George VI en Elizabeth, die koninginmoeder, asook die koningin se jonger suster, prinses Margaret, wat in 2002 oorlede is.

Buckinghampaleis het ’n foto gedeel met die nuwe grafsteen waarop die koningin en Philip se name bygevoeg is.

Windsorkasteel is die afgelope Donderdag weer oopgestel vir die publiek nadat al die koninklike wonings gesluit was tydens die routydperk wat koning Charles (73) ná sy ma se dood afgekondig het. 

Voor in die tou by Windsor was Anne Daley en Grace Gothard. Anne, wat uit die Walliese hoofstad Cardiff kom, en Grace, wat in Londen woon, het vriende geword toe hulle mekaar verlede jaar buite Kensingtonpaleis ontmoet het. Hulle was daar om die bekendstelling van die standbeeld van prinses Diana te sien. Die twee was ook heel eerste in die tou by Lambeth-brug om die koningin se kis te gaan besoek in Westminster Hall. 

“Ons het by Lambeth in die tou gestaan om eerste te wees om die kis te sien, en ons wou hier by Windsor ook eerste wees. Die kasteel is nou leeg, geen koningin, geen hertog, geen corgi’s. Ons wou net ons eer kom betoon.”

Net agter Grace en Anne in die tou was die Australiër Darren Martin. Darren, wat net voor die begrafnis in Engeland aangekom het, het sedertdien gereis na Balmoral in Skotland, waar die koningin oorlede is, Holyroodhouse, die amptelike koninklike woning in Skotland, en die koningin se geliefde Sandringham-landgoed in Engeland. 

“Sy is iemand wat ek baie bewonder het vir haar diens – als wat sy gedoen het en wat sy verteenwoordig het,” het Darren aan Sky News gesê. 

Op foto’s kan gesien word hoe die tou na die grafsteen tot buite die kasteelmure van Windsor strek. 

Intussen is die koningin se amptelike doodsertifikaat ook Donderdag uitgereik. Daarin word bekend gemaak dat sy weens “gevorderde ouderdom” oorlede is. Die dokument bevestig dat sy op 8 September om 15:10 oorlede is. Dit is onderteken deur prinses Anne (72), haar enigste dogter. 

Bronne: Sky News, BBC, Daily Mail, Twitter 

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees