Dis nou ses maande ná die koningin se dood, maar Muick en Sandy lyk asof hulle die lewe by hul nuwe eienaars, prins Andrew en sy eksvrou, Sarah Ferguson, geniet, meen die diereprater Beth Lee-Crowther.
Sarah, die hertogin van York, is tans op ’n publisiteitstoer vir haar nuwe roman, A Most Intriguing Lady. Tydens ’n verskyning op die ontbytprogram This Morning het sy twee foto’s van Muick en Sandy aan Beth gewys.
Remember The Queen’s Corgis - Sandy and Muick?
— Charlie Proctor (@MonarchyUK) March 30, 2023
Sarah, Duchess of York, has just enlisted the services of a pet psychic live on national television.
No - April Fools is still two days away.#ThisMorning pic.twitter.com/lfVWgYHaVh
Die vierpotiges het ná die koningin se begrafnis in September verlede jaar hul intrek by Andrew en Sarah by Royal Lodge in Windsor geneem. Andrew en Sarah woon steeds saam, ondanks hul egskeiding.
In ’n laaste eerbetoon aan Elizabeth, het die corgi’s haar kis ingewag toe dit by Windsor-kasteel aangekom het vir die tweede deel van haar begrafnis.
Beth, wat in 2022 ’n boek geskryf het oor die geheime agter kommunikasie met jou diere, het tydens haar ontleding van die foto’s gesê dat dit goed gaan met die laaste twee van die corgi’s wat die koningin in haar leeftyd besit het.
Muick en Sandy is deur Andrew en sy oudste dogter, prinses Beatrice, aan die koningin gegee toe haar man, prins Philip, vroeg in 2021 siek geraak het.
“Ek glo dat hulle nog treur, maar hulle hanteer dit goed,” het Beth aan Fergie gesê. “Muick en Sandy het goed aangepas by jou, Sarah. Ek voel dat een van hulle veral gebonde is aan jou, voortdurend gerustelling nodig het en daarom volg hy of sy jou heeltyd rond.”
Maar al hanteer die corgi’s blykbaar hul nuwe omstandighede goed, het Beth tekens opgemerk dat Muick met maagprobleme sukkel.
“Een van hulle wys vir my hul dieët is ’n bietjie af. Sy maag is heeltyd opgeswel, so dalk moet hy op ’n hipo-allergeniese dieet gesit word,” vertel Beth verder.
Fergie beaam later in die video dat sy wel die gedrag waarna Beth verwys, by die honde opgemerk het.
In ’n ander onderhoud vroeër hierdie week het Sarah ook onthul dat sy vreeslik bekommerd is oor die corgi’s.
“Hulle is nasionale skatte. Ek bekommer my dood as hulle buite hardloop,” het Sarah laat hoor. “Hulle jaag agter alles aan, en hardloop reguit in bome vas. Dan skree ek: ‘Nee, nee, nee, die hele Brittanje is lief vir julle, los die eekhorings!’ ”
Bronne: Daily Mail, The Independent, Hello Magazine