Dis nou amptelik! Kourtney Kardashian en Travis Barker is getroud

akkreditasie
Net ’n maand nadat hulle ’n “oefentroue” in Las Vegas gehou het, het Kourtney Kardashian (43) en Travis Barker (46) amptelik die naweek afgehaak.

Die twee het in ’n hof in die Amerikaanse kusstad Santa Barbara getrou.

’n Bron het aan People verklap dat hulle die huwelik amptelik gemaak het voor hul groot Italiaanse bruilof wat binnekort gaan plaasvind. 

Hoewel nie een van Kourtney se beroemde susters by die seremonie gewaar is nie, was Kourtney se ouma aan moederskant, Mary Jo Campbell (87), en Travis se pa, Randy Barker, wel daar.

Net soos in die flieks het die tweetjies met ’n afslaandakmotor van die hof vertrek waarop die nommerplaat “Just married” gepryk het. Daar was ook blikkies wat agteraan die kar vasgemaak is. 

Ná die tyd het Kourtney en Travis hul pasgetroude status by ’n restaurant in Montecito gevier. 

Kourtney Kardashian en Travis Barker by hul “oefen
Kourtney Kardashian en Travis Barker by hul “oefentroue” in Las Vegas. Foto: Skermgreep/Instagram/@kourtneykardash

Die duifies het op 3 April vanjaar ná die Grammy-prysaand voor ’n Elvis-nabootser in Las Vegas afgehaak. Hulle het by dié geleentheid egter geen amptelike dokumente onderteken om hul huwelik te bevestig nie, en Kourtney het dit in een van die episodes van haar familie se werklikheidsreeks The Kardashians as ’n “oefentroue” beskryf. 

Kourtney en Travis, die tromspeler van die rockgroep Blink-182, het in Januarie verlede jaar begin uitgaan.

Die Amerikaanse rocker het nege maande later, op 17 Oktober 2021, Kourtney die jawoord gevra op Miramar-strand in Montecito, met kerse en honderde rose wat in die vorm van ’n hartjie gepak was.

Travis het vir Kourtney op ’n strand in Kalifornië
Travis het vir Kourtney op ’n strand in Kalifornië gevra om te trou. Foto: Skermgreep/Instagram/@kourtneykardash

Terwyl Kourtney al in vorige verhoudings was, is dit die eerste keer dat sy verloof raak.

Die Keeping Up with the Kardashians-werklikheidster het ’n kort wit noupassende trourok met nou bandjies en ’n goue hartjie voorop vir die groot geleentheid gedra. Sy het ook ’n sluier op haar kop en kant handskoene aangehad.

Travis was ten volle in swart geklee in ’n swart pak, swart das en swart hemp. 

Kourtney se ma, Kris Jenner, het aan People gesê sy mag nog niks verklap oor die twee se troue in Italië nie en dat sy in “groot moeilikheid gaan wees” as sy enigiets uitlap.

Vorige verhoudings

Travis was voorheen getroud met Shanna Moakler (47), maar hul paadjies het in 2008 geskei. Kourtney het vanaf 2016 tot 2018 met die Algeriese model Younes Bendjima (29) uitgegaan en sy was voor dit jare lank in ’n aan-af-verhouding met die pa van haar drie kinders, Scott Disick (38), wat ook gereeld in haar familie se werklikheidsreeks te sien was.

Kourtney en Scott het twee seuns, Mason (12) en Reign (7), en ’n dogter, Penelope (9). 

Travis het ’n 16-jarige dogter, Alabama, en 18-jarige seun, Landon, by Shanna. Hy het ook vir Atiana De La Hoya (23) – Shanna se dogter uit haar vorige huwelik met Oscar De La Hoya – grootgemaak. 

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken hier vir ons nuusbriewe in:
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in

Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees