Keanu Reeves (57) was lank enkellopend totdat hy en die kunstenaar Alexandra Grant (49) mekaar in 2019 ontmoet het.
Sedertdien het hulle net ’n paar keer saam in die openbaar verskyn. Maar vandeesweek was die paartjie terug in die kollig toe hulle die 2022 MOCA Gala in die Museum of Contemporary Art in Los Angeles bygewoon het – en mense was dol daaroor.
Sosiale media was vol komplimente vir die akteur en die vrou aan sy sy, wat albei baie verlief gelyk het toe hulle saam op die rooitapyt gestap en vir foto’s poseer het.
“Hulle is so wonderlik en liefdevol teenoor mekaar. Baie privaat, maar jy kan sien daar is baie liefde en bewondering vir mekaar. So bly vir hulle albei. Liefde sal altyd seëvier,” twiet ’n aanhanger.
“Om hom so te sien glimlag, maak my baie gelukkig!” laat ’n ander een hoor.
Keanu het die liefde van sy lewe, Jennifer Syme (wat die regisseur David Lynch se assistent was), in 2001 in ’n motorongeluk verloor, twee jaar nadat hul dogter doodgebore is.
Al het hy hierna kortstondig af en toe uitgegaan, het hy geen ernstige verhouding gehad tot hy Alexandra ontmoet het nie.
Dít weet ons tot dusver van hul romanse
- Hulle was jare lank vriende en het in 2011 saam aan die prenteboekreeks vir volwassenes Ode to Happiness gewerk. Alexandra het die illustrasies verskaf en Keanu het die gedigte geskryf. Hulle het ook in 2016 saam aan ’n boekreeks getiteld Shadows gewerk.
- Hulle het in 2019 hul rooitapytdebuut gemaak by die LACMA Art+Film Gala in Los Angeles, wat die modehuis Gucci aangebied het. Alexandra het in Maart 2020 in ’n onderhoud met Vogue vertel van die aandag wat sy gekry het toe hulle hul verhouding openbaar gemaak het. “Ek dink elke liewe mens wat ek ken het my in die eerste week van November gebel, en dit is fassinerend.”
- Sy is ’n gerespekteerde kunstenaar wat in Los Angeles woon. Haar hoofmedium is verf en sy het al in galerye soos die Orange County Museum of Art in Kalifornië en die prestigeryke Marfa Invitational in Texas uitgestal.
- Op die vraag of die huwelik iets is wat sy in die toekoms vir haarself voorsien, het sy geantwoord: “Oor ’n glas wyn . . . sou ek jou graag wou vertel. Die liefde op elke vlak is diep belangrik vir my identiteit. Hoe’s daai vir die vraag omseil? Ek glo nie afsondering is die weg nie. Daar is ’n tydperk van afsondering wat ek as ’n skilder doen, maar ek stel die ervaring van in verhoudings wees hoog op prys.”
- Al het hy nie direk na Alexandra verwys nie, het Keanu in The Drew Barrymore Show oor liefde gepraat en vir die aktrise gesê hy is nie ’n minnaar nie maar ’n vegter. “Want as jy ’n minnaar is moet jy ’n vegter wees . . . Want watter soort liefde het jy as jy nie vir jou liefde veg nie?”
- Hulle besit die uitgewershuis X Artists’ Books (of XAB). Dit fokus op “diepsinnige, hoëgehalte, kunstenaargesentreerde boeke wat in en tussen genres inpas. Ons boeke is kunswerke; portale na verbeelde wêrelde; gekoesterde metgeselle; die raamwerk van ’n gemeenskap.”
Bronne: people.com, indy100.com
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!