Dit gons oor Matthew Perry se gedrag tydens 'Friends'-reünie

akkreditasie
’n Onderhoud met die akteurs van die sitkom 'Friends' waarin hulle voorbrand maak vir hul eersdaagse reünie op HBO, het mense laat wonder of Matthew Perry se ou duiwels weer by hom spook.
Matthew Perry
Matthew Perry. Foto: Gallo Images/Getty Images

Matthew het saam met sy medesterre David Schwimmer (Ross) en Matt LeBlanc (Joey) ’n video-onderhoud vir die tydskrif People gedoen – maar terwyl David en Matt geskerts en lag het, het dit gelyk asof Matthew in sy eie wêreld is.

Jennifer Aniston (Rachel), Courteney Cox (Monica) en Lisa Kudrow (Phoebe) het saam met die mans in ’n promosievideo vir die reeks verskyn, maar hy het nie by hulle vir die paneelonderhoud aangesluit nie. 

Terwyl hy gepraat het oor hoe dit was om weer saam met die span akteurs te werk, het Matthew (51) lank geneem om te reageer, oor sy woorde gestruikel en die verte ingestaar. En toe hy gevra is of hy al ooit ’n aandenking van die stel gegaps het, het dit geklink asof hy sleeptong praat.

“Ek het die koekiefles met die horlosie daarop gegaps,” het hy gesê.

Matthew se onduidelike pratery was kort voor lank algemene soektogte op Twitter. Een gebruiker het geskryf: “Ek het pas die onderhoud met People gesien en kan nie glo hoe Matthew Perry lyk nie. Dit breek my hart.”

“Dit pynig my om Matthew Perry so te sien, hy lyk net afgetrokke, staar die verte in en praat stadig,” het nog een laat hoor. ’n Derde persoon het gesê: “Ek wil dit nie graag sê nie, maar ek is hartseer en vreesbevange namens Matthew Perry.”

Ander het die akteur verdedig en daarop gewys hy het “gesukkel met verslawing en moes baie deurmaak”. 

“Moenie die Friends-reünie gebruik om gek te skeer met hoe Matthew Perry deesdae lyk nie,” het een gesê. “Mense raak ouer, glo dit of nie. Matthew het baie deurgemaak sedert Friends in 2004 geëindig het. Toon respek eerder as om te veroordeel.”

Die akteur het openlik oor sy probleme in die verlede gepraat en vir People gesê dinge het “handuit geruk en was baie ongesond” nadat hy ná ’n waterponie-ongeluk in 1997 aan die pynstiller Vicodin verslaaf geraak het.

“Hier, gebruik dit,” het die dokters toe vir hom gesê.

“Ek het dit gebruik en beter as ooit in my lewe gevoel. Ek het ’n groot probleem met pille en drank gehad en kon nie stop nie. Friends se sukses het dinge verder ingewikkeld gemaak.

“Ek was in Friends van 24 tot 34. Ek was in die witwarm vlam van roem. Ons sesstuks was oral die hele tyd. Van ’n buitestander se perspektief het dit gelyk asof ek alles het. Dit was eintlik ’n baie eensame tyd in my lewe omdat ek met alkoholisme gesukkel het.

"Dit het reeds voor Friends gebeur, maar dis ’n toenemende siekte. Ek was nie ’n groot partytjiedier nie. Ek was nie ’n bul-in-’n-glaskas-soort drinker nie.”

Friends
David Schwimmer, Jennifer Aniston, Courteney Cox, Matthew Perry, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het in 1997 vir die eerste keer rehabilitasie gekry en dit later as die “vreesaanjaendste ding wat nog ooit met my gebeur het” beskryf. “Jy kry nuwe respek vir jouself en die lewe wanneer jy deur iets so moeilik gaan.”

Maar sy nugterskap was van korte duur en teen 2001 het hy weer rehabilitasie gekry – maar nie voor ’n twee week lange hospitaalverblyf vir behandeling vir akute pankreatitis nie – ’n toestand wat deur sy misbruik van drank en voorskrifmedikasie veroorsaak is. 

Matthew het al erken hy was so in ’n beswyming dat selfs sy glorieryke dae in Friends ietwat van ’n waas is. Hy is in ’n onderhoud met die BBC drie jaar gelede gevra watter episode hy die minste van hou.

“Ek dink die antwoord is: Daar is drie jaar daarvan wat ek glad nie onthou nie. Dus, niks van die episodes tussen seisoen drie en ses nie.”

Hy het later verduidelik hoewel hy nooit dwelms gebruik of alkohol op die stel gehad het nie, was hy byna altyd “pynlik babelas”.

In Mei 2011 was Matthew vir ’n derde keer in rehabilitasie en ’n woordvoerder het gesê dis om te voorkom dat hy terugval in ou gewoontes, en dat dit die afgelope paar jare goed gaan met hom. Hy het in November verlede jaar aangekondig hy is verloof aan die 29-jarige literêre bestuurder Molly Hurwitz. 

Die twee is verlede maand saam gesien ná die inperking in Los Angeles. Hulle is glo sedert 2018 saam, maar die tydlyn is ietwat vaag aangesien Matthew ’n jaar gelede uitgevang is toe hy met ’n 19-jarige meisie op Raya, die afspraak-app vir bekendes, geflankeer het. 

Kate Haralson het vroeër vandeesmaand ’n kort video gedeel met die onderskrif: “As jy as ’n grap kontak maak met Matthew Perry op ’n afspraak-app en hy jou op FaceTime kontak en 20 vrae met jou speel.”

’n Glimlaggende Matthew vra in die video van 16 sekondes: “Speel jy altyd so baie met jou hare?” waarop sy giggelend antwoord: “Ek dink so.”

Kate het onlangs aan PageSix gesê sy het die video gedeel om te wys hoe ouer mans in Hollywood jonger vroue op afspraak-apps “misbruik”. Sy is sedertdien van die app geskop omdat sy privaatheidsriglyne oortree het. 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, MIRROR.CO.UK, PAGESIX.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, TMZ.COM, PEOPLE.COM, BBC.COM, MENSHEALTH.COM
Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees