Miles laat die kwik op die silwerskerm styg as die sexy vlieënier lt. Bradley “Rooster” Bradshaw in die lokettreffer Top Gun: Maverick. ’n Toneel waarin hy kaalbolyf veskyn, laat die internet hyg én gons – en nou geniet Miles skielik ook hartebrekerstatus.
Die Amerikaanse akteur (35) ryg deesdae die hoofrolle in. Hy is nou op Netflix te sien in die wetenskapsfiksieriller Spiderhead, wat op George Saunders se kortverhaal “Escape from Spiderhead” gegrond is.
Die fliek gaan oor gevangenes wat proefkonyn speel vir eksperimentele dwelms onder leiding van ’n mal wetenskaplike, Steve Abnesti (Chris Hemsworth). Die eksperimente verander hul gedrag.