Drama oor diva-gedrag: Bronne in Las Vegas sê Adele se span is ’n 'nagmerrie'

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dit lyk of daar ’n wending is nadat Adele haar vertonings in Las Vegas gekanselleer het en dit stel die sangeres en haar span nie ’n goeie lig nie.
Adele.
Adele. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die superster het op sosiale media aangekondig sy gaan haar vertonings kanselleer ’n skamele 24 uur voor dit moes begin. En nou loop sy deur onder kritiek van ontevrede aanhangers en mense in die binnekring wat sê haar span was ’n “totale nagmerrie” om mee saam te werk. 

Terwyl Adele sê dit het te doen met “onvoldoende dienslewering” en omdat “die helfte van haar span covid onder lede het”, sê bronne daar steek meer ager die storie. En dit lyk asof sy nie so onskuldig is soos wat sy voorgee nie. 

Sy word ’n diva genoem nadat haar span glo geweier het om die moderne toerusting in The Colosseum at Caesars Palace te gebruik en daarop aangedring het om dit met haar eie stelsel te vervang.

Ander uitvoerende kunstenaars wat ook vir hul puntenerigheid bekend is – soos Madonna, Celine Dion en Mariah Carey – het al die lokaal se toerusting sonder klagtes gebruik.

“Die teater het ’n tamaai videoskerm, baie gevorderd, maar Adele se span het op ’n heel nuwe stelsel aangedring – ’n groter skerm, basies ’n paar sentimeter voor die bestaande skerm gebou,” skryf die joernalis Scott Roeben van Las Vegas.

“Ek hoor ook Caesars moes die hoëtek- Meyer-klankstelsel vir haar met ’n ander stelsel vervang. 

“Sulke eise jaag nie net die produksiekoste op nie; in ’n tyd wanneer voorraad ontwrig is, is dit ’n resep vir ’n ramp. Caesars was 100% reg vir haar; dus is hier ander dinge aan die gang. Ongelukkig klink dit of een van daardie faktore ’n diva is.”

Daar brou glo wrywing tussen die perfeksionistiese sangeres en haar bestuurspan, wat haar jarelange Briste bestuurder Jonathan Dickins insluit.

Dit was hy wat haar as ’n tiener ontdek het en hy is deur haar reis na supersterstatus aan haar sy. Maar daar word nou bespiegel sy wil hom met haar kêrel, die sportagent Rich Paul vervang. 

Adele en Rich Paul
Adele en Rich Paul. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al is dit bekend Adele ly aan angs en ernstige verhoogvrees, wat voorheen gemaak het dat sy uitvoerings op die nippertjie moes kanselleer, sal dit aanhangers nie paai nie. Baie het hul woede uitgespreek dat hulle ver gereis en groot geld opgedok het om die musiek-ikoon te sien optree. 

Die meeste voel sy moes in die een of ander eenvoudiger vorm met die konsert voortgegaan het, maar dit lyk nie asof dit ’n moontlikheid is nie. Party sangers het tot haar verdediging gekom.

Pink het soos volg op sosiale media geskryf: “Hartjie, ek was al daar. Die druk is ontsettend en ek is verpleter vir julle almal. Dit sal weer in plek val en dit sal wonderlik wees wanneer dit gebeur.”

Adele tree dalk eers volgende jaar by Caesars op as gevolg van die teater se propvol program. Maar party mense meen sy sal dalk nooit daar optree nie.

’n Aanhanger se TikTok-boodskap dat sy haar ikoon nou drie keer misgeloop het, het soos ’n veldbrand versprei. Eleni Sabracos het op Craigslist kaartjies vir ’n vertoning in Madison Square Garden gekoop, maar het later uitgevind dit is vervals.

Sy het toe na Londen gevlieg vir ’n vertoning wat later gekanselleer is. En nou het dieselfde lot haar in Las Vegas te beurt geval. Uit erkenning aan aanhangers wat reeds in Las Vegas aangekom het vir haar eerste konsert, het lede van Adele se span ’n paar besoekers by haar Weekends with Adele-handelswarewinkel eenkant toe gevat sodat hulle vir ’n rukkie op ’n video-oproep met die sangeres kon gesels. Eleni was een van hulle en het oorstelp eers vir Adele gesê: “Ek is lief vir jou” en toe: “Ek is jammer.”

Dit het Adele laat vra: “Hoekom is jy jammer?”

“Want ek voel vir jou,” het Eleni gesê. “Ek weet jy doen alles wat jy kan.” Baie mense sal dalk nou van haar verskil. 

Bronne: dailynews.co.uk, Instagram, billboard.com
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees