Early B vertel hoe sy geloof en grootwordjare sy musiek beïnvloed

akkreditasie
Die bekende rapper Early B, ’n bekende naam in talle huishoudings, se liefde vir musiek — en rap — spruit uit sy grootwordjare uit.

Stout, snaaks en heeltyd besig om rympies te maak. Dít is hoe die rapper Early B homself as kind beskryf.

Hoewel hy nie veel kan onthou van sy eerste jaar op skool nie, is daar wel een herinnering wat hy tot vandag toe vashou en koester. 

rapper,early b
Die gewilde Bloemendal-rapper, Early B. Foto: Verskaf
Early B op die ouderdom van twee. Foto: Verslaf
Early B op tweejarige ouderdom. Foto: Verslaf

“In Graad 1 het ek ’n goeie vriend gemaak wat tot vandag toe nog my vriend is. 

“Ons het op die vreemdste manier vriende geraak. Hy wou my t-shirt vir homself hê,” vertel die rapper.

Early B gee die t-shirt toe nie op sonder ’n geveg nie.

Early B as kind saam met 'n familievriend, Shirmel
Early B as kind saam met 'n familiemaatjie, Shirmell Agnew, by 'n debutantebal. Foto: Verskaf

“Ons het so ’n klein stryerytjie gehad en mekaar rondgestoot.”

Die juffrou het toe ingekom en vir albei pakslae gegee. Daai oomblik het die twee onafskeibaar van mekaar gemaak. 

“Ons het toe beste vriende geraak. Elke keer as ons mekaar nou sien, is dit net liefde,” vertel hy. 

Early B, wat vandag sy tweede album Funky-Kaans uitgereik het, se nuwe album is terugblik op sy grootwordjare. 

“Elke liedjie op die album het ’n herinnering van my kindertyd. 

“Ek raak aan baie dinge waardeur ek gegaan het,” vertel hy. 

Early B het in Bloemendal in Port Elizabeth grootgeword, en dit is juis 'n verwysing daarna wanneer hy sê: “Van die dal af, meisie”. 

“My grootwordjare was fun en ’n blessing,” sê hy. “Omdat ek ouers gehad het soos my ouers, kon ek die regte paadjie kies.”

early b
Early B, gedoop Earl Swartz, as ’n klein seuntjie. Foto: Verskaf

“As ’n laaitie was ek Jesus se soldaatjie.”

In een van die liedjies van die album, "Too Blessed To Be Stressed", vertel hy watter radikale rol geloof in sy grootwordjare gespeel het. 

“In die liedjie sê ek dankie aan my ouers dat hulle vir my die regte morals geleer het in die kerk,” sê hy. 

Volgens die rapper is dit juis danksy sy ouers wat hy nou die blinkpad stap.

early b
Saam met sy ouers, Linda en Boet Swartz. Foto: Verskaf

Die "Sak Sara"-treffermaker se album bestaan uit 16 liedjies. Volgens Early B hoop hy om met die album 'n sterker platform te skep vir Afrikaanse rap. 

“Die collabs op die album is meestal opkomende kunstenaars,” vertel hy. 

Bliksemstraal, Miss Understood en Tertius Cuyler is van die kunstenaars saam met wie die rapper gewerk het. 

Volgens Early B bring elke kunstenaar iets anders na die album wat daaraan 'n unieke klank gee. 

Funky-Kaans is ’n kombinasie van verskillende musiekstyle, maar ons het ook elke styl met respek behandel,” vertel hy.

Sy vorige album, Aangename Kennis, is in 2019 aangewys as die mees gestroomde album van die jaar. Dié album het ook talle Ghoema-nominasies ontvang, en Early B het selfs die Ghoema gewen vir beste hip-hop-liedjie vir sy trefffer "Ben Ten". 

Early-B het destyds in 2019 aan Huisgenoot vertel dat hy eerlike musiek maak oor wat mense voel. 

“Soms laat dit mense smile. Ander kere probeer ek ’n les oordra, soos met 'Duk vir Drugs', wat vertel hoe dwelms jou op ’n moeilike pad vat,” het die rapper vertel.

Skryf in vir ons My Graadeentjie-kompetisie

Is jou kind vanjaar in Gr. 1? Indien wel, kan jy in aanmerking kom vir kontantpryse ter waarde van R12 500 asook verskeie geskenkpakke. 

  • Die eerste prys is ’n R6 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Tweede prys: R4 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Derde prys: R2 500 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Vir die oulikste glimlag is daar 10 Pritt-geskenkpakke beskikbaar ter waarde van R1 000.
  • En vir die beste houding kan jou kind een van 10 pare Toughees-skoolskoene ter waarde van R239.95 – R269.95 wen. 

Besoek die My Graadeentjie-webtuiste om in te skryf en vir die volledige bepalings en voorwaardes

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees