TWEEDE PROBEERSLAG
Erns, wat in Brooklyn in Kaapstad woon, vertel hy het eers behoorlik begin draf in 2015, toe hy al 35 jaar oud was.
“Dit was ná ek die Camino in Spanje gaan stap het en vir ’n slag fiks was en heelwat gewig afgeskud het. Ek het toe my eerste halfmarathon gedoen en dit baie geniet,” vertel hy aan Huisgenoot.
In 2016 het hy ingeskryf vir die Kaapstad-marathon, maar weens werskdruk en ’n gebrek aan dissipline, het hy nooit daardie jaar gehardloop nie.
Toe dit vroeër vanjaar bekend raak dat die Kaapstad-marathon hopelik gaan plaasvind, het hy weer daaraan begin dink om in te skryf. “Ek oefen dikwels op my beste wanneer ek ’n spesifieke doel voor oë het,” sê Erns.
VOORBEREIDING
Hy het alreeds in Mei vanjaar begin voorberei om die 42,2 km in die Kaapstad-marathon kaf te draf.
“Ek het begin met kort afstande draf, soos 5 km en 7 km, en dit stadigaan opgebou en afgewissel tot ek uiteindelik 30 km gedraf het sowat drie weke gelede. Dit is die verste wat ek nog ooit gedraf het,” sê hy.
Natuurlik het die staptogte wat hy in die verlede gedoen het vir die kykNET-reisprogram Elders gehelp met die voorbereiding vir sy eerste marathon laat Erns hoor.
“Ek dink veral daardie lang stapdae op die Camino in Spanje het my voorberei op lang afstande en my die selfvertroue gegee dat ek dalk dieselfde sal kan doen wanneer ek draf,” sê hy.
’N SAAK NA AAN DIE HART
Erns vertel hy is vroeër vanjaar genader deur prof. Lizette Rabe, van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek, om te hoor of hy en sy vrou, Catharien, die Kaapstad-marathon sal hardloop ten bate van die Ithemba Foundation wat sy gestig het.
“Ons het dadelik ingestem, maar Catharien moes ongelukkig later onttrek weens ’n besering.”
Psigiese gesondheid is ’n saak wat die Elders-aanbieder baie na aan die hart lê. “Ek stap self ’n lewenslange pad met depressie en wil baie graag ’n beskeie bydrae maak tot Ithemba se roeping.”
Hy het intussen ook lekker begin saamwerk met sy goeie vriend en skrywer, Dana Snyman. “Die Swarthond-projek, wat hy saam met Erna Oosthuizen aanpak, help ook om die stilte oor depressie te breek. Ek gaan Sondag draf met ’n Swarthond-hoed.”
Erns het tot dusver bietjie meer as R25 000 ingesamel en is hoopvol dat hy sy teiken van R42 200 (’n duisend rand per kilometer of R1 per meter) sal bereik.
“Ek is baie dankbaar vir elke donasie wat inrol. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe ruim mense se harte (en beursies) is en dat hulle geld skenk vir iets waarvoor hulle nie direk iets terug ontvang nie, maar wat ’n groot verskil in ander se lewens kan maak,” sê hy.