Die “Lights Out”-sangeres se ma en Elvis se eksvrou, Priscilla, het die nuus van Lisa Marie se dood aan People bevestig.
Hier is van die mees traumatiese gebeure van Lisa Marie se lewe:
1. Haar pa se dood
Lisa Marie was net nege toe haar pa op 42 jaar oud dood is aan ’n hartaanval.
Die laaste keer dat sy hom gesien het, was 04:00 die oggend toe sy nie aan die slaap kon raak nie. Elvis het haar toe goeienag gesoen op haar voorkop, en dit was die laaste keer dat sy hom lewend gesien het.
Elvis se meisie van daardie tyd, Ginger Alden, het sy lyk op 16 Augustus langs die toilet ontdek.
Lisa Marie het ook haar pa se lyk langs die toilet gesien, waarna sy haar pa se eksmeisie Linda Thompson gebel en die nuus oorgedra het.
In 1993, op haar 25ste verjaardag, het Lisa Marie die erfgenaam van haar pa se Graceland-landgoed geword, en die waarde daarvan is na raming $100 miljoen (sowat R1,7 miljard).
Elvis se eerste en enigste huwelik was met Priscilla Ann Presley (née Wagner), maar hulle het in 1973 geskei toe Lisa Marie vier was.
2. Haar vier mislukte huwelike
Die sanger en liedjieskrywer het vier mislukte huwelike gehad, waarvan die eerste daarvan op 20 met die Chicago-musikant Danny Keough was. Sy het Danny ontmoet toe hulle albei in ’n rehabilitasiesentrum was vir dwelmverslawing.
Sy het twee kinders by Danny gehad, Riley Keough en haar ontslape seun, Benjamin Keough.
Ná haar egskeiding met Danny was Lisa Marie in 1994 getroud met Michael Jackson, en met dié dat die dogter van die koning van rock 'n' roll met die koning van pop getroud was, was dit een van die grootste huwelike van daardie jaar.
Hul huwelik het gekom ’n jaar nadat Michael daarvan aangekla was dat hy ’n 13-jarige seun seksueel mishandel het. Die paartjie het in 1996 geskei as gevolg van “onversoenbare verskille”.
Daarna het Lisa Marie in 2002 ’n kortstondige huwelik van drie maande gehad met die Oscar-benoemde akteur Nicolas Cage.
Haar laaste huwelik was met die Amerikaanse kitaarspeler Michael Lockwood. Sy het twee dogters, die tweeling Harper en Finley, saam met Michael, en hulle is op 7 Oktober 2008 gebore. Die paar se uitgerekte egskeiding het in 2016 begin en was ten tyde van haar dood steeds nie opgelos nie.
3. Die dood van haar enigste seun
Een van die mees traumatiese gebeure in Lisa Marie se lewe was toe haar enigste seun in 2020 sy eie lewe geneem het ná ’n lang stryd met verslawing.
Mense in Lisa Marie se binnekring het gesê Benjamin (27) se dood het haar “verpletter en ontroosbaar” gelaat, en dit het verdere komplikasies gebring. Luidens hofdokumente wat Michael in Junie 2020 ingedien het, was hy bekommerd oor Harper en Finley wat by hul ma woon, soos Huisgenoot in 2020 berig het.
“Lisa Marie Presley se seun het homself in haar huis doodgemaak,” sê hy in die dokumente.
“Met alle nodige simpatie en respek skep dit ’n nuwe en onopgeloste tweeledige probleem: die veiligheid van die kinders en die groter kans dat Lisa Marie weer in ’n dwelm- en drankgewoonte kan verval.”
4. Haar stryd met dwelms
Die sangeres het tussen die ouderdom van 13–17 dwelms misbruik tot haar ma haar ingeboek het by ’n rehabilitasiesentrum.
“Ek het kokaïen, kalmeermiddels, dwelms en drank gebruik – alles op dieselfde tyd. Ek kon net nie nugter wees nie. Ek weet nie hoe ek daardeur gekom het nie,” het Lisa Marie in 2003 aan Paper Magazine oor haar dwelmgebruik as tiener gesê.
In 2008 het sy verslaaf geraak aan opioïede toe sy ’n korttermynvoorskrif daarvoor gekry het terwyl sy herstel het van die geboorte van haar tweelingdogters. Teen 2013 het sy ’n erge kokaïenverslawing gehad, en sy is minstens vyf keer na ’n rehabilitasiesentrum.
In meer onlangse jare was sy nugter, maar nadat haar seun in 2020 dood is, het haar eks Michael gevrees dat sy ’n terugslag kon hê.
Bronne: news.com.au, smoothradio.com, etonline.com, mirror.co.uk, deadline.com, express.co.uk, dailymail.co.uk, people.com, deadline.com, mamamia.com.au