‘Getroud met rugby’-ster Arno Greeff is verloof: ‘Dit was soos iets uit ’n fliek’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ‘Getroud met rugby’-akteur Arno Greeff (27) is amptelik van die rak af! Arno het Donderdagaand sy meisie van die afgelope twee jaar die jawoord gevra.

Iluska Nagy (24), ’n model en grafiese ontwerper, se hele familie het saamgespeel om die verlowing onvergeetlik te maak. “Ek het basies al ’n ring van Februarie af, maar dit was net nooit die regte oomblik nie omdat ek altyd iets probeer beplan het, maar dan werk my skedule nie so uit nie,” sê Arno.

Die akteur het eindelik besluit om Donderdagaand by die Mooikrans-trouvenue in Pretoria op een knie gegaan en Iluska gevra om met hom te trou. En sy het ja gesê. “Dit was soos iets uit ’n fliek,” vertel Arno aan Huisgenoot

Arno het op sy Instagram-blad foto’s van die groot oomblik gedeel. “Liked it. Put a ring on it,” het hy by ’n rits kiekies van hul verlowing geskryf.

Hy moes aanvanklik eers Iluska by Mooikrans kry sonder dat sy onraad vermoed, vertel Arno nou. Iluska se vriendin het toe vir haar gesê sy moet haar daar kry met die idee dat sy haar wil vra om een van haar strooimeisies vir haar troue te wees.

Almal sou ná Iluska die jawoord gegee het haar ook by haar ouers se huis verras met ’n ete. Dit was ’n groot taak om Iluska weg van haar ouerhuis te hou. “Die mense het al van die middag af daar aangekom, so ons moes haar ook wegkry van die huis af sodat sy nie sien mense kom daar aan nie,” vertel Arno.

“Sy moes boonop nie met haar eie kar bestuur nie sodat sy nie kon teruggaan huis toe nie. Haar pa het toe haar kar se battery ontkoppel sodat sy saam met iemand anders moes ry.”

Iluska wou aanvanklik ook op dié einste dag van die huis af werk. Arno moes toe een van haar kollegas vra om ’n vals vergadering te reël sodat sy in werk toe moes gaan sodat sy nie onraad merk as mense by haar huis begin opdaag nie.

Toe hulle by Mooikrans aankom, het Arno Iluska ingewag met kersies, roosblare en sjampanje. “Sy het toe begin huil en ek het toe ook sommer later begin huil,” sê hy.

Die twee, wat tans in Johannesburg woon, beplan om nog vanjaar voor die kansel te staan omdat hulle dalk binne die volgende drie maande Kaapstad toe verhuis. Die paartjie wil voor die moontlike groot trek na trouvenues kyk en op die regte een besluit vir hul groot dag.

Arno het aanvanklik twee jaar gelede vir Iluska op Instagram ontmoet. Hulle het vir hul eerste afspraak by Mythos, ’n Griekse restaurant in Menlyn Maine in Pretoria, gaan eet.

“Ons het so ’n groot platter bestel en ek moes toe omtrent die hele platter op my eie geëet het, want sy was te skaam om baie te eet. Ons het toe weer Dinsdag daar gaan eet vir ’n full-circle oomblik, maar toe het ons die platter saam klaargemaak,” lag hy.

Arno, wat in die reeks Blood & Water op Netflix was en ook as Braam in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, te sien was, beskryf Iluska as ’n liefdevolle en positiewe mens. Hy dink nie dit het al ooit so goed met enigiemand gegaan soos dit op die oomblik met hom gaan nie, sê hy. “Iluska het die kleinste en mooiste hart in die hele wêreld. Sy is net ’n positiewe lig in die wêreld,” koer hy.

Die gelukwensinge het op Instagram ingestroom nadat Arno sy verlowingnuus daar gedeel het. “Happy happy bra!” het die sanger en akteur Bouwer Bosch in die kommentaarafdeling laat hoor.

“Baie, baie geluk,” het die Boer soek ’n vrou-aanbieder Marciel Hopkins geskryf.

Ook die aktrise Gail Mabalane, wat saam met Arno in Blood & Water was, het hom op Instagram gelukgewens. “Die beste jare lê nog voor vir jou,” het Gail laat hoor. 

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in op Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees